Renier van Rooyen (62) staan buite die beskuldigdebank, terwyl Claudius Peterson (regs, in die swart hemp) en Steven Jonkers met hul selfone besig is.

Foto: Charné Kemp

Die Defensor-sekuriteitsmaatskappy wat verdink word dat hy twyfelagtige kontrakte van R384 miljoen van die Noord-Kaapse departement van gesondheid verkry het, het op Vrydag 31 Januarie ’n tweede terugslag gehad nadat sy en sy direkteure se aansoek dat die regter homself van hul verhoor moet verskoon, van die hand gewys is.

Hul vroeëre aansoek om ontslag op al die aanklagte teen hulle het ook in die hooggeregshof in Kimberley misluk.

Die staat het reeds sy saak gesluit in die verhoor van Steven Jonkers (55), eertydse departementshoof van gesondheid en deesdae adjunk-direkteur-generaal in die kantoor van die premier, Defensor Electronic Security Systems, asook sy direkteure Renier van Rooyen (62) en Claudius Gerald Peterson (57).

Voer sewe gronde aan
Almal behalwe Jonkers het ’n aansoek gebring dat die regter homself van die verhoor verskoon. Die aansoekers het sewe gronde aangevoer waarop hulle ’n vermoede het dat die regter partydig mag wees.

In sy uitspraak het waarnemende regter Omphemetse Chwaro al die gronde verwerp.

Die regter meen die aansoek dat hy homself moet verskoon voldoen nie aan die kriterium nie.

Die een kwessie was die regter se weiering vroeër om die verhoor vir ’n forensiese getuie uit te stel om namens die verdediging te getuig oor die geloofwaardigheid van die tenderdokumente. ’n Aansoek om uitstel is nie ’n gegewe in ’n verhoor nie, en die finale besluit lê by die voorsittende beampte. Die verdediging het die keuse om staatsgetuies te herroep of hul eie getuies te roep wanneer hulle getuienis lei, meen die regter.

Die verdediging het ook aangevoer die regter handhaaf ’n meer gunstige houding jeens die staat as die verdediging.

Hierop het regter Chwaro uit die rekord voorgelees om te toon dat enige kwessies reeds opgelos is en dat hy die staat en verdediging tot orde roep indien nodig. Die verdediging het ook gereeld beswaar gemaak indien die staat leidende vrae gestel het, terwyl die regter ook daarop ingestel was. Die verdediging is steeds ontevrede oor die regter hul aansoek om ontslag afgewys het.

Volgens regter Chwaro kom dit voor asof die verdediging bedekte appèlaansoeke teen sy besluite en uitsprake maak.

Na bewering sou Van Rooyen ook ’n oproep ontvang van ’n man wat aangevoer het hy is ’n staatsadvokaat in Gauteng. Die man het glo omkoopgeld gevra om regter Chwaro te beïnvloed. Daar is egter geen bewyse wie die man is nie en boonop sê regter Chwaro niemand ken die man nie.

Die aangeklaagdes word van tenderbedrog vir ’n sekuriteitskontrak verdink. Die staat voer aan die beskuldigdes het vanaf 13 Maart 2014 tot 20 Oktober 2017 geheul en ’n wanvoorstelling in tenderdokumente gemaak om die departement te bedrieg.

Van Rooyen en Peterson word daarvan verdink dat hulle nie die vereistes vir tender nagekom het toe die bod ingedien is nie. Die maatskappy was nie by die Reguleringsowerheid vir die Privaatveiligheidsbedryf (Prisa) geregistreer nie.

Hulle het na bewering ook ’n vals belastingklaringsertifikaat ingedien.

Die twee het na bewering ook voorgegee dat hulle nie enige belange in verwante maatskappye het nie.

‘Opsetlik mislei’
Jonkers het as rekenpligtige beampte na bewering die departement en personeel mislei dat hy tevrede was dat verkrygingsvereistes nagekom is. Die vereistes van die Wet op Openbare Finansies is na bewering op opsetlike, onwettige en roekelose wyse geïgnoreer, luidens die akte van beskuldiging.

As rekenpligtige beampte moet Jonkers ’n regverdige, deursigtige, mededingende en koste-effektiewe aankoopproses volg en onreëlmatige en vermorste uitgawes voorkom.

Jonkers het glo die oorspronklike bod van R224 miljoen goedgekeur asook ’n verdere aanpassing van R160 miljoen toe die kontrak onderteken is.

Adv. Isaac Mphela kla aan. Advv. Willem Edeling, SC, en Kristle Peterson tree namens al die beskuldigdes op. Die verhoor is tot 30 Junie uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article