Miskien het dit te doen met die feit dat ek hierdie week my ou wyse, gryse moeder se advies nodig gehad het oor wat ek hierdie week as tema kies.
Of dalk omdat ek in praktyk gekonfronteer is met ’n bejaarde pa wie se kinders op drie plekke in die wêreld sit.
Of dalk omdat ons ’n paar bejaardes in kosnood moes bystaan.
Dalk dink ek vanaand daaroor omdat ek van ’n paar plekke af advies gevra is oor die hantering van ouer wordende ouers.
Hoe ook al. Dit is waarskynlik al hierdie redes saam wat ek ons weeklikse spasie in die Twyfelhoekie aan ons bejaardes afstaan.
’n Gemeenskap se integriteit word geweeg aan die wyse waarop hulle omgaan met hul kinders, mense met gestremdhede en bejaardes.
Ja, jy moet vir bejaardes lief wees en respek hê. Dit is ons almal se verantwoordelikheid.
Natuurlik, van hulle is soms maar moeilik en die konteks is soms uiters uitdagend, maar ons moet maar vir hulle gaan kuier, en hulle besoek, hulle bystaan en vir hulle lief wees.
Dit is immers hulle wat ons grootgemaak het.
Ons kan ’n duisend verskonings hê hoekom ons hulle verwaarloos, te min kontak maak of nie besoek nie.
As jou ouers nog lewe, kontak hulle nou.
As jy vir hulle iets hierdie week kan beteken, doen dit.
As jy ’n draai kan gaan maak, doen dit.
As jy kan, besoek ’n onbekende bejaarde, ’n eensame, vat ’n geskenkie, gaan gee ’n drukkie. Ons moet ’n bietjie mooier kyk na ons bejaardes.
Pas hulle op.

