Die hooggeregshof in Kimberley het op Vrydag 7 Februarie die moordverdagte Clive Ferris, wat saam met sy dogter, adv. Celeste Nameka (42), van sameswering tot moord aangekla word, se appèlaansoek teen die vroeëre weiering van sy borgtog, toegestaan.
Hy moet R10 000 borgtog betaal en een keer per maand by die polisiekantoor aanmeld. Hy mag ook nie met staatsgetuies inmeng nie.
In sy aansoek het die hof etlike kere gehoor dat Ferris ’n “verswakte 67-jarige man” is wat op borgtog vrygelaat moet word.
Die staat het hierop in hul betoog aangevoer die “sogenaamde verswakte verdagte het glo etlike kere met ’n vuurwapen op mense geskiet, hulle daarmee om hul motors gejaag en self die een slagoffer met gebalde vuiste bygekom.”
Die opspraakwekkende skietvoorval het vroegoggend op 21 Desember 2024 by ’n woonkompleks in Minerva Gardens, Kimberley, plaasgevind waar Nameka saam het haar kêrel gewoon het. Die staat voer aan sy het Ferris gebel ná ’n rusie met haar kêrel, waarna Ferris glo met ’n vuurwapen daar aangekom en mense gedreig en geskiet en ook aangerand het. Een is gewond, en een dood in die voorval.
Die kêrel is glo in sy boud geskiet terwyl ’n middeljarige vrou, Charmaine Anthony, in die maag gewond is. Anthony is later aan haar beserings in die hospitaal oorlede.
Ferris, ’n oud-skoolhoof van die Laerskool Homevale, is dae ná die voorval in die landdroshof aangekla, en Nameka is as medebeskuldigde vroeg in Januarie vanjaar bygevoeg. Hulle staar afsonderlik en/of gesamentlik tereg op moord, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en die afvuur van ’n vuurwapen in ’n stedelike gebied.
Nameka word ook aangekla dat sy familielede van die oorledene op ’n afsonderlike geleentheid gedreig het.
Terwyl Nameka op borgtog van R5 000 vrygelaat is, is Ferris se aansoek in Januarie deur landdros Khumalo afgewys.
Lees meer oor die agtergrond van dié skietvoorval.





