Die gewilde Mokala-boskonsert word op 13 April vir die tiende keer onder die sterrehemel in dié nasionale park suid van Kimberley aangebied.
Die SANParke Ereveldwagters beplan weereens ’n onvergeetlike musiekervaring met twee ikoniese gaskunstenaars: die Suid-Afrikaanse tenoor Jannie Moolman, bekend vir treffers soos “Liefling” en “Ek mis jou elke dag”, asook die talentvolle Nederlandse sangeres Amira Willighagen.
Moolman, wat al sedert 1990 in die musiekbedryf is, is geliefd vir sy verskeidenheid musiek, van opera tot Afrikaanse liedjies, en het al rolle in operas soos La Boheme en Carmen vertolk. Hy is ook ’n gewilde kunstenaar by Suid-Afrikaanse kunstefeeste.
Willighagen, wie se pa Nederlands en ma Suid-Afrikaans is, het op negejarige ouderdom Holland’s Got Talent gewen. Sy het sedertdien internasionale roem verwerf en is in Suid-Afrika bekend vir onder meer liedere soos “Die Onse Vader“ en “Amazing Grace”. Sy en haar gesin woon sedert 2018 in Potchefstroom.
Die konsertnaweek, wat elke jaar aangebied word om die park se bewaringsprojekte te ondersteun, vind van 11 tot 13 April plaas en alles dui daarop dat dié tiende konsert besonders gaan wees.
Volgens die voorsitter van die reëlingskomitee, Christo Louw, is geen moeite ontsien om van die aand ‘n unieke ervaring vir gaste te maak nie, en alle kaartjies is reeds blitsvinnig uitverkoop.
Die konsertnaweek, wat ook die natuurskoon en diverse wildlewe van die Mokala- nasionale park bekendstel, dra aansienlik by tot bewaringspogings.
Natuurliefhebbers wat die park besoek, kan daarna uitsien om ook skaars spesies soos bastergemsbokke, basterhartbeeste (tsessebe’s) en swartwitpense in die Noord-Kaapse natuurskoon te bewonder. Ook op voëlkykers wag ’n wonderlike ervaring.
Diegene wat wil verseker dat hulle hierdie ervaring in die toekoms nie misloop nie, word aanbeveel om vroegtydig kaartjies te bespreek deur ‘n e-pos te stuur na inaleamy@sanparksvolunteers.org.
Die datum vir die 2026-konsert sal na afloop van vanjaar se geleentheid bekend gemaak word.





