Skuldig op 18 aanklagte: Vonnisoplegging moet erns van misdade weerspieël

Itumeleng Machabe (27), voorheen Bendow, in die beskuldigdebank.

Foto: Charné Kemp

“ ’n Diep gevoel van hartseer hang daagliks oor my.” Dit het adv. Elmarie Krüger op Woensdag 12 Februarie in die hooggeregshof in Kimberley uit ’n slagofferimpakverslag voorgelees in haar betoë ter strafverswaring teen Itumeleng Machabe (27).

Machabe, voorheen Bendow, is die dag tevore skuldig bevind op 18 aanklagte teen hom, en moet lewenslange vonnisse opgelê word vir vyf van die 18 aanklagte, voer Krüger aan.

Sy sê toenemende misdaad en al meer geweld teenoor vroue en kinders kom in Suid-Afrika voor en dat ’n gepaste vonnis die erns van die misdaad moet weerspieël en die gemeenskap se vertroue in die regstelsel bevestig.

Machabe is skuldig bevind op 18 van 19 aanklagte, waaronder die verkragting en moord van Relebohile Segami (11) in 2022 in Galeshewe, Kimberley.

Relebohile Segami (11). Itumeleng Machabe (27), voorheen Bendow, is skuldig bevind op haar verkragting en moord.

“Ek haat Woensdae, Donderdae en Vrydae. Relebohile het op ’n Woensdag vermis geraak, haar lyk is op ’n Donderdag gevind en op ’n Vrydag is sy ter ruste gelê. Ek was destyds so ontwrig, ek kon nie haar lyk identifiseer nie.” Só het Krüger verder uit die slagofferimpakverslag van Relebohile se ma, Shariema Segami, voorgelees.

Slagoffers mislei, uitgelok, afgedreig

Machabe is onskuldig bevind op poging tot moord op een van sy slagoffers, maar skuldig op haar verkragting op drie wyses; die verkragting van nog ’n meisie; die toon van pornografie aan minderjariges; crimen injuria en bedrog.

Hy het drie skoolmeisies op Facebook mislei en uitgelok om naakfoto’s van hulself aan hom te stuur. Hiermee het hy hulle verder afgedreig om nog meer eksplisiete foto’s en video’s te stuur.

Machabe wat vyf jaar gelede voorgegee het hy is ’n gay skoolmeisie, was destyds inderdaad ’n man van 22 jaar. Hy het die skuilname Prudence Femme lvy en Mona Femme Lisa gebruik.

Op 31 Maart 2022 het hy vir Relebohile en ’n ander meisie en seun geld belowe terwyl hulle agter hom aangeloop het. Nadat hy die een meisie gevra het of sy ’n maagd was, het sy weggestap. Hy het gesê hy wil Relebohile sy vrou maak. Die seun het ook afgedraai. Relebohile het by hom gebly en aangedring op haar R20 wat hy beloof het.

Haar naakte lyk is die volgende dag in die veld gevind.

Die hofbanke was vol met familielede van die slagoffers en die beskuldigde, asook gemeenskapsaktiviste teen geweld teen vroue en kinders.

Emosionele letsels blywend

Krüger het uit vyf slagofferimpakverslae voorgelees om die pyn en lyding van die slagoffers en naasbestaandes uit te lig.

Die maagdelike meisie wat verkrag is toe sy 13 jaar oud was, het Machabe as ’n familievriend geken en hom vertrou. Nadat sy en haar ma klagtes by die polisie ingedien het, het die saak meer as twee jaar gesloer voor hulle dit teruggetrek het. Sy het op skool gesukkel en een graad twee keer herhaal weens die emosionele trauma.

Aktiviste teen geweld teen vroue en kinders was verheug dat Itumeleng Machabe (27), voorheen Bendow, in die hooggeregshof in Kimberley skuldig is aan onder meer verkragting en moord.

Die drie meisies wat met naakfotos’s afgedreig is, se selfvertroue is geskaad en hulle het blywende emosionele letsels. Van hulle het meer as een keer selfdood probeer pleeg. Hulle het hulself voortdurend blameer, was verneder en kon nie hul skoolmaats in die oë kyk nie. Hulle is deur skoolmaats verwerp. Hulle voel hulle het hul ma’s in die steek gelaat en teleurgestel. Van hulle het van sosiale media afgegaan, en vertrou nie meer vreemdelinge nie.

Relebohile se suster en broer het in briewe en sketse hul emosionele pyn en verlange na hul suster weergegee. Die een suster sê haar spesiale band met haar suster is verbreek. Haar broer het vertel hoe lief hy vir haar was.

Relebohile se ma het beskryf hoe hul gesin verwoes is en dat elkeen met emosionele pyn worstel en dit konflik in die huis veroorsaak.

“Die hofsaal is vol mense wat besorg is oor die toenemende geweld teenoor vroue en kinders. Hulle vereis ’n sterk boodskap dat die hof dit nie sal duld nie. Mense moet verseker word dat hulle veiliger kan voel,” het Krüger ook in haar betoog gesê.

‘Misdade uiters ernstig’

Adv. Sakkie Nel, namens Machabe, het in betoë ter vir strafversagting benadruk dat sy kliënt op 27 jaar oud nog baie jonk is en gerehabiliteer kan word.

Die hofgangers het op dié stelling onderlangs gebrom.

Itumeleng Machabe (27), voorheen Bendow, sit in die beskuldigdebank voor die galery wat met familielede en aktiviste teen geweld teen vroue en kinders volgepak is.

Machabe moet buitengewone persoonlike omstandighede vir ’n versagtende vonnis toon, maar die gemeenskap se belange moet ook vir die vonnis oorweeg word. Machabe het ’n kind (8), het gr. 10 behaal en het by sy stiefpa ten tyde van die moord gewerk.

Nel het by die regter gepleit dat sy nie lewenslange vonnisse oplê nie, wat die ergste is wat voorgeskryf word vir die soort misdade. Hy het vir ’n lang vonnis gepleit, eerder as ’n lewenslange vonnis.

Nel het toegegee dat die misdade uiters ernstig is. Machabe was net 16 jaar oud toe hy een meisies verkrag het. Die slagofferimpakverslae wat hul lyding na die misdade beskryf, kan egter nie ontken word nie.

Die vonnisoplegging is op 18 Februarie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article