“The goal of American English speakers appears to be to rob the mother tongue of direct meaning and replace it with needlessly-complex jargon.” – Stewart Stafford
Die Amerikaners verwar ons.
So sien ek nou die dag in die landdroshof dat iemand ’n uitsteldatum vir ’n hofsaak op die Amerikaanse manier geskryf het.
Die Yanks sê die maand eerste, dan die dag. Soos 9/11 wat in Suid Afrika eerder 11/9 geskryf word. Die hofsaak is noodgedwonge uitgestel, want daar was verwarring oor die datum. Was dit 10/11 of 11/10?
Genugtig, dat die Yanks nou selfs in ’n hof in Kimberley ’n invloed het – om hofsake te vertraag en argumente in die hofsaal uit te lok.
Ook hul Amerikaanse manier van praat en spel verwar. Is my buurman my “neighbor” of “neighbour”? Is ’n sypaadjie ’n “side-walk”, ’n “pavement” of “verge”, soos Australiërs praat.
Hoe is dit dat “pop” koeldrank is, en om te “back up” wanneer jy in trurat is. “Reverse” is ’n baie lekkerder woord. Gee my ’n bakkie eerder as ’n “pickup”. Ek wil niemand “pickup” nie. Ek wil goeters in ’n bakkie laai waar dit heel anderkant uitkom.
Maar wie is ek om te skinder.
Hulle lag hulle dood oor ons leksikon. Kyk net na video’s op die sosiale media waarin paartjies, die een Suid-Afrikaans en die ander Amerikaans, vir mekaar se unieke woordjies lag.
Ons gebruik van “sharp” vir “oukei”, “tjaila” vir “klaar gewerk”, “koebaai” vir “good bye” . . .
Solank ons net kan luister en verstaan.


