Meer as 500 deelnemers het aan die onlangse Valentynsdag-geleentheid deelgeneem om geld vir die Kimberley-DBV in te samel.

Foto: Verskaf

Meer as R9 000, asook ’n “bakkievrag” vol kos vir die honde en katte by die DBV in Kimberley, is tydens die 4 km-Valentynsdagpretstap en -drafgeleentheid van die Kimberley Harriers-hardloopklub ingesamel.

Dié geleentheid op 11 Februarie by die Hoërskool Diamantveld, is deur meer as 500 stappers en drawwers bygewoon – sommige met ’n vierpotige vriend aan ’n leiband.

Ria Janse van Vuuren, van Kimberley Harriers, vertel dat dit ’n reusesukses was en dat kontantskenkings van R9 438 ontvang is.

Die klub is dankbaar dat leerlinge en personeellede van Diamantveld die klub ondersteun het.

Deelnemers kon kontant, komberse of hond- en katkos skenk.

  • Op ’n plasing op sy Facebook-blad het die DBV in Kimberley op Vrydag 14 Februarie bekendgemaak dat dié vereniging amptelik goedgekeur is as ’n Art. 18A-instelling.

Dit beteken dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) die Kimberley-DBV as ’n kwalifiserende openbare-weldaadsorganisasie (PBO) kragtens die inkomstebelastingwet erken.

Hiermee kan diegene wat skenkings aan die DBV maak, dit as ’n belastingaftrekbare skenking doen en ’n Art. 18A-belastingsertifikaat daarvoor ontvang.

Besoek die Kimberley SPCA/DBV op Facebook vir meer inligting.

  • Kimberley Harriers se 55ste Diamond Marathon vind op 1 Maart plaas. Besoek die klub op Facebook vir meer inligting.

’n Bakkievrag vol honde- en katkos is ingesamel, en meer as R9 000 se kontantskenkings is ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article