Ter illustrasie

Foto: pixabay.com

’n Polisieman wat van korrupsie en regsverydeling aangekla word, was op Donderdag 13 Februarie nie in die spesiale handelsmisdaadhof in Kimberley in die beskuldigdebank nie omdat hy te “siek is en in ’n psigiatriese hospitaal” opgeneem is.

Die aangeklaagde, Shawn Everyday, is ’n polisielid wat normaalweg as ’n ordonnans in die landdroshof in Kimberley werk. Van die ordonnanse se take is om beskuldigdes van en na die hofsaal en die aanhouding­selle in die kelderverdieping vir hof­verskynings te begelei.

Christo Jantjies, sy regsverteenwoordiger, sê Everyday kan weens sy siekte nie verskyn nie en is aan die begin van die maand opgeneem. Dit is ook moeilik vir hom om met Everyday te konsulteer omdat sy regsversekering nog nie bevestig het dat die regskoste betaal sal word nie.

Die saak teen Everyday word deur die polisie se teenkorrupsie-eenheid ondersoek, en ander ordonnanse by dieselfde hof is ook in hegtenis geneem en aangekla.

Everyday word daarvan verdink dat hy op 25 Augustus 2023 op onwettige wyse ’n gunsloon van R100 van ene Samantha April ontvang het. In ruil daarvoor het hy teenstrydig met sy statutêre verpligtinge en op oneerlike wyse ’n pakkie wat April aan hom gegee het, aan ’n aangehoudene, ene Prince Memani, in die aanhoudingselle by die hof gegee.

Die pakkie het glo dwelms bevat.

Adv. Elmarie Krüger kla aan.

Streeklanddros Vernon Smith het die saak tot 4 Maart uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article