Die nuwe jaar is in volle gang. Die meeste mense voel hul vakansie is binne die eerste paar dae uitkanselleer – asof daar nooit ’n rustyd was nie.

Ek bevind my op ’n maandelikse afspraak. Almal vra uit na die vakansie en hoe die nuwe jaar daar uitsien.

Terwyl sy naby my met haar werk besig is, vra ek haar oor haar vakansie uit.

Ons ras verskil, maar ons albei praat Afrikaans. ’n Mens kan haar deur ’n ring trek en sy hanteer die kliënte met baie respek.

Sy vertel my dat sy elke Desember by haar gesin en familie in ’n ander provinsie gaan kuier.

Opgewonde beduie sy hoe sy elke jaar die bus soontoe neem en hoe sy die kuier geniet.

Hierdie jaar was effens anders.

Weens familiestruwelinge het haar wegbreek nie so goed begin nie, maar alles het goed geëindig.

“My man sê altyd hulle het nie gedagtes van hul eie nie.”

Ek glimlag.

Ons Afrikaanse taal is darem ongelooflik beskrywend.

Sy sien ek glimlag en raak ’n oomblik stil.

“Dit beteken hulle kan nie vir hulleself dink nie,” sê ek.

Sy knik haar kop instemmend en gesels verder.

Dit voel of daar al hoe meer mense is wat nie gedagtes van hul eie het nie. Mense koer in groepe saam oor goed wat vir die meeste mense glad nie sin maak nie. Asof logika heeltemal by hulle ontbreek.

Mag mense binnekort weer gedagtes van hul eie kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article