Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley het met ’n arrogante, kwaadwillige en traak-my-nie-agtige houding hulle geensins aan ’n 2024-hofbevel gesteur ingevolge waarvan hulle binne 60 dae ’n tegniese verslag moes indien oor hoe hulle hul rioolbesoedeling van die oorvol Kamfersdam buite die stad gaan stopsit.
Só het Brenda Booth van Northern Cape Ranchers (NCR) en ’n benadeelde grondeienaar se regspan op Dinsdag 18 Februarie in die hooggeregshof in Kimberley betoog in hul aansoek dat die munisipaliteit met ’n bestraffende kostebevel aan minagting van die hof skuldig bevind word.
Booth voer aan die water verswelg die weiding, bedreig plante en diere en besoedel die grond in so ’n mate dat die waarde daarvan gedurig verminder. Die stad se bekende flaminke wat eens daar gebroei en oorleef het, het lankal verdwyn.
Ingevolge die hofbevel wat Booth op 22 Maart 2024 bekom het, moes die munisipaliteit binne 60 dae ’n tegniese verslag by die hof indien. Hierin moet die munisipale bestuurder verduidelik wat die stappe is om binne 120 dae die e.Coli-vlakke binne aanvaarbare vlakke te verlaag, nie meer as 30 megaliter per dag los te laat, en geen rou riool in Kamfersdam te pomp nie.
Booth sou insae in die verslag hê en kommentaar lewer. Sou almal tevrede wees, sou dit ‘n hofbevel of bygewerk word.
Adv. Danie Olivier het namens Booth betoog dat geen verslag of beëdigde verklaring teen die keerdatum ingedien is oor hoekom die hofbevel nie nagekom is nie.
Eers toe hulle in die begin van Junie 2024 herinner is, het die munisipaliteit op 27 Junie ’n sogenaamde tegniese verslag ingedien.
Olivier betwyfel die egtheid van die verslag en voer aan dit is vir ’n konferensie in Mei 2023 met die departement van water en sanitasie (DWS) voorberei. Die datum van Mei 2023 is net na Mei 2024 aangepas om dit as die sogenaamde tegniese verslag voor te hou.
Daarin word geen duidelike regstellende
stappe, spertye en mikpunte in besonderhede beskryf soos die hof gelas het nie.
Olivier voer aan die munisipaliteit probeer die hof ‘n rat voor die oë draai met die sogenaamde verslag.
Die munisipaliteit kan nie voorgee hulle was aanvanklik onbewus van die Maart 2024-hofbevel nie, want hulle het ingestem tot die hofbevel en het selfs wysigings gemaak. Hul regsverteenwoordiger was in die hof teenwoordig.
Sedert 2016 het die munisipaliteit hom nie aan etlike direktiewe van die DWS of die drie regseise van Booth gesteur nie, voer Olivier aan. Booth se uitnodigings om die omgewingskade aan haar grond te inspekteer, is van die hand gewys.
Die munisipaliteit se betoë dat hy op die
skouer geklop moet word omdat hy iets doen, is verregaande, meen Olivier.
Amptenare kan nie die feite ontken nie, soos dat hulle ’n statutêre plig het om
die omgewing en waterbronne te beskerm of dat Booth se grond besoedel is nie.
Booth se eise is nie “rocket science” nie, dis haalbaar.
Sedert Booth se aansoek aangehoor is, versleg die situasie by Kamfersdam en honderde voëlvrektes is in November verlede jaar aangemeld. Wetenskaplikes het bevestigende toetsuitslae geneem, daar is ’n rioolreuk en teenwoordigheid op die grond. Die flaminke het lankal verdwyn.
Adv. Peter Volmink, namens die munisipaliteit, ontken dat hulle die hof minag of hul gedrag buite orde is. Hy erken hulle het “ ’n fout of misstap” gemaak toe hulle nie die tegniese verslag of eedsverklaring by die hof ingedien het nie. Hy gee toe die “verslag” het gapings en gebreke.
Dit is onwaar dat die munisipaliteit “nie ’n duit omgee vir wat by die aanleg gebeur nie” of in “kwade wil en arrogant” optree. Volmink voer aan hulle is besig met “beduidende” regstellende stappe en dat die damvlak begin daal.
Hulle onderhandel met die gholfbaan en Ekapa-myn om water weg te pomp en daar is ’n plan om water na nabygeleë plase te pomp. Die mobiele pompe van Transnet sal binnekort in diens gestel word. Die munisipaliteit het ’n versoek aan die Tesourie gerig vir geld om die aanleg reg te ruk.
Die munisipaliteit het ’n versoek aan die
Tesourie gerig vir geld om die Homevale-aanleg reg te ruk. Die kleiner aanleg
wat 15 megaliter per dag verwerk, is in werking. Die herstelplan bestaan uit
twee fases, maar sal tyd neem. Hy voer aan dat hulle ’n heining om die aanleg gespan het om vandalisme
te keer, koper in kabels met ander metaal vervang en kringtelevisiekameras in
werking gaan stel.
Regter Almé Stanton het uitspraak voorbehou.




