John-Ross Henderson
John-Ross Henderson vroeër in die beskuldigdebank. Foto: Charné Kemp

John Ross Henderson, wat van moord en poging tot moord beskuldig word, het genoeg uitsonderlike omstandighede en toepaslike nuwe feite bewys. Dit het die hooggeregshof in Kimberley op Woensdag 19 Februarie in ’n aansoek om appèl teen die weiering van borgtog aangehoor.

Henderson (38) word verdink dat hy vir Jayson Afrique doodgeskiet het, en Jayson se vrou, Michayla, in hul bakkie voor hul woonkompleks in Julie 2024 in Kimberley wou doodskiet. Die polisie het hom in September 2024 in hegtenis geneem.

Sy eerste borgtogaansoek het misluk, asook die tweede aansoek op nuwe feite, waarna sy appèlaansoek na die hooggeregshof verwys is.

Die staat voer aan die skieter het die egpaar eers agtervolg voor daar op hulle losgebrand is kort voordat hulle met hul bakkie by hul woonkompleks wou inry.

Henderson se selfoon met sy vingerafdruk daarop is naby die egpaar se bakkie op die misdaadtoneel gevind. Die staat voer aan Henderson se klagte die volgende dag by die polisie dat sy foon by ’n vulstasiekafee verlore gegaan het, is ’n rookskerm.

Herholdt Robertson, namens Henderson, het aangevoer sy kliënt het tien nuwe feite aan die hof voorgelê. Dit sluit in dat hy self getuig het en kruisondervra is; getuienis waarin hy sy teenwoordigheid op die moordtoneel onthul het. Na bewering het hy as ’n sekuriteitswag op patrollie in die omgewing van die voorval op die roepradio verneem en daarheen beweeg.

Die polisie se tydlyn van gebeure, wat ook in ’n mediaverklaring onthul is, maak nie sin nie. Dit is van wanneer Michayla haar pa vanaf die toneel gebel het, sy aankoms en tot wanneer die selfoon opgetel is.

Die betrokke landdros wat die tweede borgtogaansoek geweier het, het fouteer deur nie die foto’s van die bakkie wat Henderson ingedien het as getuienis te oorweeg nie, het Robertson aangevoer.

In sy antwoord het adv. Theuns Barnard namens die staat aangevoer dat nuwe feite van toepassing tot die saak moet wees, en reeds bekend en openbaar moet wees tydens die eerste borgtogaansoek en nie vir latere gebruik nie.

Henderson se verweer kan nie tydens die twee borgtogaansoeke verander nie. As hy ontken dat hy die dade gepleeg het, sal die tydlyn nie vir hom tersaaklik wees nie, ook nie vanwaar die skote gevuur is nie.

Volgens Barnard is Henderson se grootste probleem dat sy selfoon digby die bakkie gelê het vanwaar die skote gevuur is en die polisie dit gevind het.

Waarnemende regter T. Tyuthuza het uitspraak voorbehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article