Itumeleng Machabe (27), veroordeelde verkragter en moordenaar, het sy slagoffers verneder en met minagting behandel. Hy het geen berou of insigte in sy afstootlike dade nie.
In haar onlangse uitspraak waar Machabe op die beskuldigdebank gesit het, het regter Cecile Williams gesê die gemeenskap word deur geweld teen vroue en kinders geteister, en dit lyk nie of swaar vonnisse as afskrikmiddel enige positiewe effek het nie.
Die howe word oorval met die soort sake wat ’n maatskaplike dilemma geword het.
Machabe is op Dinsdag 18 Februarie in die hooggeregshof in Kimberley twee lewenslange vonnisse en effektief 44 jaar tronkstraf opgelê.
Tydens haar uitspraak het regter Williams sy dade as grusaam beskryf en bevind sy gebrek aan berou laat haar wonder of hy rehabiliteerbaar is.
Machabe wat voorgegee het hy is ’n gay skoolmeisie, was destyds inderdaad ’n man van 22 jaar. Hy het die skuilname Prudence Femme lvy en Mona Femme Lisa gebruik.
Die meisie (13) wat hy verkrag het, het hom ’n paar jaar geken en vertrou voordat hy haar gewelddadig van haar maagdelikheid beroof het. Hy het minderjarige skoolmeisies toe hy net 22 jaar oud was, met naakfoto’s op berekende wyse afgepers vir sy perverse en weersinwekkende drange.
Dit het verwoestende nagevolge op sy slagoffers gehad, sommiges wou selfdood pleeg. Hul vernedering het langdurige nadelige emosionele letsels gelaat en hulle het soos verworpenes gevoel.
Die meisie wat hy drie keer verkrag het, het hy verder verneder deur haar te klap en dwing om sy urine te sluk.
Die meisie, Relebohile Segami (11), wie hy in Maart 2022 in Galeshewe verkrag en vermoor het, het hom as ? gesinsvriend vertrou. Niemand het destyds geweet dat hy op borgtog vrygelaat is weens drie aanklagte van verkragting nie. Hy het die meisie verwurg sodat sy hom nie kon identifiseer nie. Haar dood het haar ma diep bedroef gelaat.
In sy weergawe het hy het sy alibi versin en het geen berou getoon nie.
Vonnis verwelkom
Die EFF in die Frances Baard-streek het dié hofuitspraak en vonnis verwelkom.
In ’n mediaverklaring sê EFF-raadslid Mocwana Pontsho dat geregtigheid ná ’n lang verhoor vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld geseëvier het.
“Dit is jammer dat die Suid-Afrikaanse Grondwet nie voorsiening vir die doodstraf maak nie. Dit maak wel voorsiening vir lang vonnisse, daarom bepleit ons veelvuldige lewenslange vonnisse,” aldus die verklaring.
Die grusame verkragting en moord op vroue en kinders dui op die euwels wat in gemeenskappe heers. Dit is noodsaaklik dat politieke partye, kerkorganisasies, aktivistegroepe en die regering spoedig saam moet optree om dit aan te spreek.
Voorts sê die party dat dit ’n jammerte is dat slagoffers soms vir jare moet wag voordat hul hofsake afgehandel is. Dit wys daarop dat die regstelsel uitdagings beleef om suksesvolle vervolgings te verseker.
Die party versoek gemeenskappe om nie te onttrek aan die stryd teen sulke wrede misdade nie,
Sulke dade het nie net ’n invloed op die lewe van slagoffers nie, maar ook op dié van gemeenskapslede.
Die party bedank alle lede van die polisie, maatskaplike werkers, die gemeenskap, en die Nasionale Vervolginggesag wat bygedra het dat geregtigheid kon geskied.
Kuberboeliery ’n misdaad
In ’n mediaverklaring van die polisie in die Noord-Kaap word Machabe as onder meer ’n kuberboelie beskryf.
Vroeër het die polisie veiligheidswenke uitgereik oor hoe om kuberboeliery te vermy, en te hanteer indien dit wel gebeur.
In ’n verklaring sê sers. Timothy Sam, polisiewoordvoerder, dat slagoffers van kuberboeliery emosionele en fisiese skade, verlies aan selfbeeld, gevoelens van skaamte en angs, konsentrasie en leerprobleme kan opdoen.
In sommige gevalle vind selfdood plaas.
Afhangend van die aard van die dade, kan kuberboeliery ’n misdaad wees, en kan die oortreder strafregtelik aangekla word.
Let ook op die volgende:
1. Moenie op kuberboeliery reageer nie. Jou reaksie is gewoonlik presies wat die boelie wil hê, en dit gee hom of haar mag oor jou.
2. Moenie wraak neem nie. Om met soortgelyke dreigemente te reageer, versterk die boelie se gedrag en dit skep ‘n siklus van aggressie.
3. Stoor die bewyse. Aanlynboodskappe kan gewoonlik gestoor en gewys word aan iemand wat kan help. Stoor alle bewyse, al is dit gering, aangesien dit dalk later kan toeneem.
4. Blok die persoon op jou sosialemediaplatforms.
5. Rapporteer enige beledigende opmerkings aan die administrateurs van die platform.
6. Reik uit – praat met ‘n vriend of ‘n betroubare volwassene wat jou kan help.
7. Moenie persoonlike inligting aanlyn plaas of deel nie. Dit sluit volle name, adres, telefoonnommer, die skool se naam, ouers se name, bankbesonderhede, en vriende se persoonlike inligting in.
8. Moenie wagwoorde met enigiemand deel nie.
9. Moet nooit op enige aanlynplatform enigiets plaas wat jy nie wil hê jou skoolmaats moet sien nie.
Wenke vir volwassenes om ’n kind te help
1. Let op na waarskuwingstekens van kuberboeliery. Is die kind hartseer, kwaad of benoud tydens of ná die gebruik van die internet of ‘n selfoon?
2. Is die kind angstig wanneer hy of sy ‘n SMS, e-pos ontvang of op sosiale media-webwerwe was.
3. Neem kennis as jou kind gesprekke vermy of geheimsinnig is oor rekenaar- of selfoonaktiwiteite.
4. Kyk of jou kind hom of haar onttrek aan aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het.
5. Toon jou kind veranderinge in bui, gedrag, slaap, of eetlus, en is daar tekens van depressie of angs?
– Bygewerk





