Deel van die vullisterrein in Upington.

Foto: Verskaf

Talle munisipaliteite in die Noord-Kaap word versoek om daadwerklik die vullisterreine van die onderskeie dorpe op te knap en die bestuur daarvan te verbeter.

As deel van sy jaarlikse vullisterrein-oudit, het lede van AfriForum die afgelope maand by talle vullisterreine besoek afgelê. Dit is deel van die organisasie se nasionale projek om die toestand van die terreine in die land te bepaal.

Kragtens toepaslike wetge­wing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Om­gewingsbestuur, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Vullis van talle munisi­paliteite word egter in die Oranjerivier gestort.

Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, sê die organisasie is in gesprekke met die betrokke munisipaliteite oor die haglike omstandighede van vullis­terreine. Dit sluit die Karoo Hoogland- en die Siyathemba- plaaslike munisipaliteit in.

Die meeste vullisterreine het nie heinings nie en daar is geen beheer oor wat gestort word nie – van dierekarkasse tot ou motorbande word daar weggegooi.

Op elke vullisterrein is bewoners wat vure aansteek, wat ’n gevaar in die geval van droogte­geteisterde gebiede inhou. Die voortdurende rook dra ook tot lugbesoedeling by.

Tydens ’n besoek aan die Oranjerivier by Prieska het ’n munisipale werknemer laat hoor dat die Siyathemba-munisipaliteit hom opdrag gegee het om rou riool in die rivier te stort. Hierdie storting is baie nadelig vir die natuur en die plante en visse in die rivier.

In Springbok wei skape, beeste en varke op die vullis­terrein.

Die organisasie se Springbok-tak het met die Namakwa-munisipaliteit hande gevat om die vullisterrein op te knap. Die tak het ’n kompak­teerder gehuur wat die vullis uit die pad gestoot en op vragmotors gelaai het om op die regte plek te gaan stort. Dit was egter net ’n tydelike oplossing en die vullis skep weer ’n haglike toestand.

Strauss sê die vullisterrein by Upington het egter die afgelope jaar ’n nuwe baadjie aangetrek met die aankoop van nuwe kompakteerders, die aanstelling van veiligheidswagte wat toegangs­beheer toepas en ’n nuwe heining om die vullisterrein. Hoewel daar nog heelwat probleme bestaan, is die verandering positief.

“Daar sal dringend by die vervalle vullisterreine ingetree moet word om verdere skade aan die natuur te voorkom.

“AfriForum sal daadwerklike druk toepas en met die munisipaliteite saamwerk wat wel ’n verskil in die Noord-Kaap wil maak deur vullis­terreine reg te ruk,” sê Strauss.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article