Die elektriese drade is van die breker ontkoppel en uit die elektriese kas verwyder. Dié punte is nie lewendig nie omdat die sekerings by die transformator op die kragpaal oopgemaak is..

Foto: Verskaf

Weens ’n agterstallige munisipale diensterekening is die Nuwe Laerskool Wrenchville se elektrisiteits­toevoer meer as ’n maand gelede ontkoppel.

Teen Dinsdag 4 Maart was ’n kragopwekker steeds by die skool in gebruik om kantoor- en verwante administratiewe take te verrig terwyl die res van die skool daarsonder moet regkom, insluitend die lokaal waar rekenaarverwante klasse aangebied moet word.

Snags is die skool in donkerte gehul, en ’n inbraak het reeds plaasgevind.

Dié nuwe laerskool, wat in 2019 oopgemaak is, het glo ’n agterstallige munisipale diensterekening van nagenoeg R900 000.

Die redes waarom dié rekening agterstallig is, is talryk. Sedert die skool se opening in 2019 is die jaarlikse toelaag van die departement van onderwys in die ander laerskool in Wrenchville se bankrekening betaal omdat die nuwe laerskool nog nie ’n bankrekening gehad het nie.

Ongeveer drie jaar gelede het die Nuwe Laerskool Wrenchville ’n bankrekening oopgemaak, en die ander skool in wie se rekening die toelaaggeld inbetaal is, het dit na die nuwe rekening oorgeplaas. Volgens ’n ingeligte persoon behoort daar na bewering ongeveer R400 000 in dié bankrekening te wees wat vir die diensterekening afgekamp is.

d

Die Nuwe Laerskool Wrenchville is in 2019 geopen.

Die geld kan egter glo nie bekom word nie omdat alle betrokkenes van die skool en skoolbeheerliggaam (SBL) nie tekenreg op dié rekening by die bank het nie. Daar is ook bewerings dat daar nie geld in die rekening is nie.

Omdat die skool in ’n nuwe uitbreiding gebou is, moes diensterekeninge by die Ga-Segonyana- plaaslike munisipaliteit registreer word. Dit is nooit gedoen nie.

Nottie Eilerd, DA-raadslid in die John Taolo Gaetsewe-distriks­munisipaliteit en ’n inwoner van Wrenchville, sê die mense van die skool se voedingskema maak gelukkig meesal van gas gebruik.

Rdl. Nottie Eilerd (van die DA in die John Taolo Gaetsewe-distriks-munisipaliteit en ’n inwoner van Wrenchville) by die skool.

Die geldelike verknorsing van die departement van onderwys het veroorsaak dat handboeke en geld vir die nasionale voedingskema nie betyds toegeken is nie en die skool kon op 17 Februarie die eerste keer kos aan die leerlinge verskaf.

Dié skool is in 2022 deur die gemeenskap toegemaak weens knelpunte met aanstelling van personeel in senior poste. Tweespalt heers glo ook onder die SBL en personeel onderling.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van onderwys, het bevestig dat die skool agterstallig is met sy diensterekening.

“Die departement is besig met ’n proses om geldelike bystand aan geïdentifiseerde skole met uitstaande munisipale diensterekeninge te verleen,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article