Erfenisstigting fokus op private museums.
Die Erfenisstiging ondersteun private museums. FOTO: Unsplash / Roman Kraft

Die Erfenisstigting (ES) het ‘n projek begin om ‘n omvattende indeks te skep van alle private museums, asook erfenisterreine en -goedere, wat met Afrikanererfenis verband hou.

Dit is daarop gemik om gemeenskappe, families en geesdriftige erfenisbewaarders oor Suid-Afrika heen te help om dié geskiedenis sigbaar, toeganklik en beskermd te hou.

“Ons sien toenemend hoe van erfenisterreine tot familieversamelings en private museumprojekte verlore raak omdat mense nie daarvan bewus is of nie weet hoe om daarna om te sien nie,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste.

“Elke stukkie erfenis, elke klein museum, elke geskiedenisfragment wat deur ‘n familie of gemeenskap bewaar word, is ‘n herinnering wat opklink. Ons doel is om te help om die stemme en stories te bewaar.”

In Suid-Afrika word museums hoofsaaklik deur provinsiale of munisipale owerhede bestuur, sê Lizette Jansen, ES-bestuurder.

” ‘n Beduidende aantal kultuurhistoriese materiaal is in private besit of op private terreine. Oor dekades het families, boerderygemeenskappe, kultuurorganisasies en private versamelaars museums of uitstallings ingerig – dikwels sonder ‘n sentrale databasis.”

Stigting tree op as vennoot

Jansen beklemtoon dat die ES se werk daarop gemik is om as ‘n vennoot en ondersteuner op te tree sonder om eienaarskap hiervan te neem.

Die databasis help om gemeenskappe te verbind, navorsers te ondersteun, en belangstellendes na museums en terreine te lei wat dikwels onbekend is. Dit kan nuwe bemarkingsgeleenthede vir private museumprojekte ontsluit, aangesien besoekers makliker inligting sal vind oor wat in die omgewing te sien is.

LEES OOK: FAK ontvang versameling van komponis Chris Lamprecht (97) se werke

Die ES help projekte bemark en die sigbaarheid daarvan te verhoog, en geregistreerde lede ontvang afslag op bewaringskursusse wat spesifiek ontwerp is vir die professionele versorging van kulturele eiendom; deurlopende spesialisadvies oor die bewaring, dokumentering en hantering van erfenisvoorwerpe word aangebied.

Families met klein tuismuseums, tot groter private kultuurinstellings, word genooi om deel hiervan te word.

Die ES kan help om amptelike status vir ‘n museum of terrein by die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) te verkry.

Eenmalige administrasiegeld van R500 is betaalbaar om deel van die register te word.

  • Besoek die webwerf vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article