Tien jong mense van Springbok en ander wat ondersteuning ontvang het.
Tien jongmense van Springbok en ander belanghebbendes wat by die leerprogram betrokke is. FOTO: Verskaf

’n Geakkrediteerde leerprogram wat vroeër vanjaar begin het, bemagtig tien plaaslike jongmense van Springbok met waardevolle vaardighede om hul indiensneembaarheid in projekbestuur te verbeter. Die inisiatief bied gemeenskapsbewuste jongmense toegang tot verskeie werksomgewings.

Sukses van die projekbestuur-inisiatief lê in die sterk vennootskap tussen die jeug en plaaslike ondernemings wat deelnemers in staat stel om praktiese werkservaring op te doen.

Die program bestaande uit teorie en praktiese ondervinding stel deelnemers in staat om ’n vlak 5-kwalifikasie te verwerf, geakkrediteer deur die Quality Council for Trades and Occupations (QCTO).

“Ek het aangesluit om myself te ontwikkel, nuwe vaardighede aan te leer en praktiese ondervinding op te doen. Die program het my laat besef dat projekbestuur nie net vir groot maatskappye is nie, maar vir enige werksomgewing. Die waardevolste ding wat ek geleer het, is hoe belangrik spanwerk en goeie kommunikasie is.

“Ek het besef dat sukses afhang van samewerking, respek en die gebruik van elkeen se sterkpunte om ’n gemeenskaplike doel te bereik,” sê Anri Newman, ‘n deelnemer wat prakties by Radio NFM gedoen het.

Fokus op noodsaaklike vaardighede

Die program, befonds deur Kangnas-windplaas, fokus op noodsaaklike werksplekbevoegdhede soos spanwerk, effektiewe kommunikasie, probleemoplossing, emosionele intelligensie, en die implementering van projekte van begin tot einde.

“Hierdie program verbeter nie net die professionele vooruitsigte van hierdie jongmense nie, maar dra by tot die breër doelwit om vaardige, gemotiveerde en gemeenskapsbewuste individue te kweek wat gereed is om ’n positiewe impak in die arbeidsmark te maak,” verduidelik Rouchet Daniels, ekonomiese ontwikkelingsbestuurder vir Kangnas-windplaas.

Die program oor ses maande is in twee fases gestruktureer: teoretiese werk in ‘n klaskamer, asook die plasing by ondernemings in die plaaslike gemeenskap. Dié ondernemings het die Legal Arts Hub, Undulata, BVI, Hoërskool Concordia, Radio NFM, Kangnas-windplaas, JLK Business Consulting, Ecast Solutions, en Steinkopf Tourism and Investments ingesluit.

Kandidate vir die leerprogram is gekies deur ’n aansoek- en onderhoudsproses wat motivering, potensiaal en geskiktheid vir die program beoordeel het.

Die program, wat op 29 November met ’n gradueringsgeleentheid afgesluit is. stel leerders in staat om aan die gemeenskap terug te gee deur deel te neem aan die windplaas se Jeugdag-projek by ’n plaaslike ouetehuis waar hulle die dag saam met die bejaardes deurgebring het.

LEES OOK: Plattelandse jeug bemagtig deur praktiese ervaring van internskap

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article