In ‘n streek waar toegang tot loopbaanvoorligting en naskoolse geleenthede beperk is, baan ‘n nuutgestigte veldtog die weg vir leerlinge van dié gemeenskap.
Die onlangse loopbaan-ekspo wat by die Hoërskool Loeriesfontein aangebied is, het deure vir toekomstige moontlikhede oopgemaak en leerlinge gehelp om hul potensiaal in oënskou te neem.
Die ekspo, deur die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanleg gefinansier, was die eerste van sy soort in Loeriesfontein en het 120 leerlinge van vyf plaaslike skole in die Hantam- en Karoo Hoogland-streek bereik.
Leerlinge kon met verteenwoordigers van twee universiteite, twee TVET-kolleges, die SAPD en verteenwoordigers van die Onderhouds- en Bedryfsdepartement van die windkragaanlegte kommunikeer.
“In gebiede soos ons s’n het leerlinge nie altyd die hulpbronne of blootstelling om ingeligte besluite oor die lewe ná matriek te neem nie. Hierdie ekspo het hul duidelikheid, motivering en ‘n werklike gevoel gegee dat daar opsies is bo en behalwe wat hulle rondom hulle sien,” sê Jacques Klaaste, hoof van die Hoërskool Loeriesfontein.
“Ons glo dié blootstelling aan loopbaanopsies hou langtermynvoordele in, nie net vir individuele leerlinge, maar ook vir hul gemeenskappe.
“Dit gaan daaroor om die grondslag te lê vir ‘n meer geskoolde, hoopvolle en ekonomies-aktiewe geslag.
“Namate meer jongmense blootgestel word aan die beskikbare ná-matriek opsies, is meer geneig om dit aan te pak en moontlik terug te keer en by te dra tot plaaslike ekonomiese groei,” sê Vanessa Fredericks, ekonomiese-ontwikkelingsbestuurder vir die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanleg.





