Die 74-jarige Dieter Meyer van Kimberley het onlangs sy 500ste parkrun voltooi.
Dié besondere mylpaal is boonop in die teenwoordigheid van die legendariese Bruce Fordyce behaal, op Delta Park-parkrun in Gauteng se 500ste byeenkoms op 22 Oktober.
Meyer het glo juis gekies om sy 500ste parkrun-wedloop by Delta Park te voltooi omdat hy een van die 26 atlete was wat in November 2011 hier die eerste parkrun in Suid-Afrika saam met Fordyce voltooi het. Fordyce is die uitvoerende hoof van parkrun Suid-Afrika.
Meyer is na bewering die tweede persoon in Suid-Afrika om 500 parkruns te voltooi.
Hy is oorspronklik van Duitsland en het ’n groot gedeelte van sy lewe in die boubedryf in veral Gauteng gewerk. Meyer het ongeveer twee jaar gelede ná sy vrou se dood Kimberley toe verhuis om by sy seun te bly. Hy is ’n lid van die Kimberley Harriers.
Sy plan was om verlede jaar die 500-kerf vir parkrun-deelname te bereik, maar die inperking weens die Covid-19-pandemie het hom gepootjie.
’n Jaar gelede, tydens ’n onderhoud van NoordkaapBulletin met Meyer, het hy genoem dat hy al op 126 verskillende plekke aan parkrun deelgeneem het – oor al Suid-Afrika se nege provinsies heen en ook in Eswatini (Swaziland).
Meyer hou van enige sportsoort, maar swem, fietsry en veldwedlope is sy passie. Hy het onder meer ’n blou nommer vir die Two Oceans- en ’n groen nommer vir die Comrades-wedloop, en het die Harrismith-bergwedloop reeds 27 keer, die Kaapstad-fietstoer (vroeër bekend as die Argus) 13 keer en die Midmarmyl 17 keer voltooi. Laasgenoemde wil hy weer aanpak.




