Nóg 'n naweek van Curriebeker-aksie lê voor.
Nóg ‘n naweek van opwindende Curriebeker-aksie lê voor.

Die Toyota Cheetahs, wat verlede week ‘n naelskraap nederlaag gely het in ‘n opwindende openings-wedstryd van die Carling Curriebeker Premier Divisie op Wellington, staan Vrydag aand weer voor ‘n groot uitdaging wanneer hulle die Pumas in Bloemfontein ontvang.

Die botsing in die Vrystaatse hoofstad sal ‘n verdere opwindende ronde van wedstryde inlui.

Saterdag verwelkom die indrukwekkende Leeus Westelike Provinsie in Johannesburg vir die vroegmiddag-wedstryd, gevolg deur ‘n reuse ontmoeting in Pretoria, waar die Bulle gasheer speel aan die Haaie.

Die naweek se aksie word op Sondag in Kimberley voortgesit, waar Griquas die Boland Kavaliers ontvang.

Frans Steyn se Cheetahs sal steeds knaag aan hul gemiste geleenthede teen die Kavaliers vrlede naweek. Vrydagaand neem hulle dit op teen die Pumas, wat na die openingsronde in derde plek op die punteleer staan.

Die Pumas se oortuigende oorwinning oor Griquas verlede naweek het hulle tussen die vroeë voorlopers op die punteleer geplaas, alhoewel dit slegs nog net na een ronde is. Met die oog op Vrydag se wedstryd in Bloemfontein sal die Vrystaters hoop om hul sterk rekord teen die Pumas te handhaaf, aangesien hulle drie van die laaste vier ontmoetings teen hul Mpumalanga-teenstanders gewen het – insluitend die 2023 Premier Divisie-eindstryd in Bloemfontein.

Die Pumas sal egter vertroue put uit hul onlangse SA Beker-vorm teen die Cheetahs, wat twee oorwinnings insluit, een daarvan ‘n 12-punt oorwinning in Maart.

In Saterdag se eerste wedstryd by Ellis Park, sal die Leeus vol vertroue wees wanneer hulle WP die hoof bied. Die Johannesburg-span het ‘n sterk stelling in die openingsronde gemaak deur die Sharks met 41 punte te verslaan, terwyl WP knie gebuig het teen die Bulle in Kaapstad.

Die Johannesburgers het die laaste twee ontmoetings tussen hierdie spanne gewen, beide tuis en weg, terwyl WP se laaste oorwinning oor hul Johannesburg-teenstanders in Maart 2023 was.

Die Bulle en Haaie het al ‘n paar onvergeetlike botsings in hierdie gesogte kompetisie gelewer, insluitend verlede jaar se epiese halfeindstryd, wat 40-40 na gewone tyd geëindig het.

Gebaseer op verlede week se dominante vertoning in Kaapstad sal die Pretoriaspan gunstelinge wees, terwyl die Durbaniete ‘n merkbare verbetering sal moet toon om Saterdag middag by Loftus mededingend te wees, nadat hulle verlede week met ‘n groot telling teen die Leeus verloor het.

Sondag se wedstryd in Kimberley sien Griquas teen die Kavaliers, ‘n span waaroor die manne van die Noord-Kaap tradisioneel die oorhand gehad het, met die laaste twee SA Beker-ontmoetings tussen hulle wat in Griquas-oorwinnings geëindig het.

Boland-afrigter Hawies Fourie sal egter na sy span se onlangse verbetering en hulle dapper tuisoorwinning oor die Cheetahs verwys as tekens van hul groeiende mededingendheid.

Alle Carling Curriebeker-wedstryde sal regstreeks op die SuperSport Rugby-kanaal uitgesaai word.

Toyota Cheetahs t. Airlink Pumas: Vrydag, 1 Augustus, 19:00

Fidelity ADT Lions t. DHL WP: Saterdag, 2 Augustus, 15:00

Vodacom Bulle t. Hollywoodbets Haai XV: Saterdag, 2 Augustus, 17:10

Suzuki Griquas t. Sanlam Boland Kavaliers, Sondag, 3 Augustus, 15:00

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article