Laat niks of niemand jou van jou vryheid beroof nie.

Ek het hier reg aan die begin van vanjaar my dit ten doel gestel om ‘n beter weergawe van myself te word en te wees. Hierdie opregte wens en doelwit het ‘n oorsprong gehad. Dit is gebore uit die hart en menswees van iemand wat die seerkry- en swaarkry-kant van die lewe op soveel wyses al ervaar het – daai soort swaarkry en seerkry wat jou menswees aan bande lê en jou partykeer die vreugde en mooi van die lewe kan laat miskyk.

Dalk kan jy jou hiermee vereenselwig; dalk nie. Hoe dit ook al sy – ek kan identifiseer met hulle wat die eina-kant van die lewe in sy vele fasette ervaar het, of steeds ervaar. Seerkry en swaarkry is mos maar deel van ons aardse reis, of hoe?

Soms kom ons op die punt waar jy wonder of dinge dan nie net iewers vir jou ook wil beter raak nie; of jy nie ook net weer iewers spontaan kan lag sonder om aan die rou wond in jou hart hoef te dink nie.

Ons almal se seer en swaarkry is uniek ingekleur. Jou doring in die vlees is daardie pakkie wat net jy ken en moet dra. Vir my was dit nog altyd iewat moeilik om die eina-deel van my lewe met ander te deel. Dis te persoonlik van aard. Ek dra my las eerder alleen.

Dis egter wanneer die dra van jou las te swaar of te veel begin raak dat jy uiteindelik besef dat jy uitmis op soveel vreugde wat die lewe jou kan en wil bied. Dis by die ontdekking hiervan dat my dringende behoefte om vryheid in sy suiwerste vorm te ervaar, ontstaan het.

Ek ken die gevoel om jou beste glimlag met ander te deel, maar die eina-kant van myself meesterlik te verberg. Ek weet hoe dit voel om hordes topprestasies te lewer en steeds leeg van binne te voel.

Moet my niks vertel van ‘n werkslading wat skrik vir niks nie en hoe dit jou uitlaatklep word vir jou soeke na meer. Kan jy verstaan hoe groot die honger uiteindelik word om vryheid te ervaar wat van binne gebore word?

My tyd het aangebreek om daardie vryheid in sy volheid te mag beleef. Ek het die verwysinsraamwerk van wat dit beteken om nie vry te voel nie. En hier praat ek nie bloot van politieke vryheid nie. Ek praat van daai vryheid wat jy in jou eie self en jou menswees ervaar; vryheid gestroop van die opinie van ander of selfopgelegde moets en moenies om deur ander aanvaar te word. Dis vryheid gestroop van mooi woorde en wat uiteindelik die self met al sy kante aanvaar en omarm.

Dis hierdie wonderlike vryheid wat ek tans ervaar.

Om tot by hierdie punt van my lewens- reis te kom, het smeking en gebed gekos. Dit het vereis dat ek vrede met die verlede (hoe eina of seer ook al) maak en vryheid kies. Die bang en twyfel van gister het

begin plek maak vir meer waagmoed en durf om nog meer van die kosbare edelstene wat in myself opgesluit lê, te ontsluit en vreesloos met hulle naby en ver van my te deel. Dis ‘n heerlike plek om te wees.

Maak dit van my ‘n superwese wat nou geen uitdagings, seerkry en hartseer oomblikke gaan ervaar nie? Glad nie. Dis egter jou vertrekpunt van hoe jy na jou omstandighede kyk wat die deurslag gee.

Ek kyk deesdae anders na myself. Ek is so dankbaar vir die groei en vryheid wat ek in myself mag ervaar – alles net genade, want ek kon myself nog in ‘n tronk of hok van worstel, pyn en selfbejammering bevind het.

Nou lag en sing my hart en kop dieselfde vrolike liedjie, want ek is vry van die lastige boeie van gister. En as daar nog ‘n Goliat voor my kom staan, dan is ek hoeka reg met my slingervelletjie om hom ‘n reuse-uitklophou te gee!

Dis hartseer om te dink dat daar van ons is – man of vrou – wat nooit die doelbewuste keuse vir vryheid sal, wil of kan maak nie . . . wat die redes daarvoor ook al is. Ons het weer die voorreg gehad om Vryheidsdag in ons land te kon vier. Dit sal ons altyd herinner aan ons vryheid op politieke vlak. Daardie vryheid is egter verweef met soveel ander aspekte van vrywees. Een daarvan is om vryheid in jouself te mag ervaar. Uit ondervinding het ek geleer dat hierdie vryheid wat op persoonlike vlak ervaar word, ook diep geestelik van aard is.

Ek is vry en gereed om ‘n nog groter bydrae te lewer. My genoegsame lesse geleer uit die verlede sal as duidelike bakens vir my reis na môre dien. Een ding is egter vir seker – dit is dat ek nooit weer wil wees waar ek my ‘n paar maande of ‘n paar jaar gelede bevind het nie. Ek is oortuig daarvan dat ons intieme persoonlike vryheid vir ons die weg baan om ons allerbeste en allermooiste bydrae hier en nou te kan maak.

Laat niks of niemand jou van jou vryheid beroof nie.

You need to be Logged In to leave a comment.