GROOTDRINK – Twee netbalspanne van ‘n plattelandse skool tussen Upington en Groblershoop in die Noord-Kaap gaan binnekort aan nasionale netbaltoernooie deelneem, en benodig ondersteuning om by dié toernooie in onderskeidelik Limpopo en Gauteng uit te kom.
Dié o.13- en o.14-span is van die Intermediêre Skool Grootdrink, ongeveer 70km vanaf Upington en 45km vanaf Groblershoop.
“Hierdie meisies kan vir jou netbal speel,” vertel Raymond Tieties, afrigter en onderwyser by die skool.

Hy sê die twee spanne het in Mei aan die Unbuntu-distrikspele in Upington deelgeneem.
“Hier het ons meisies eerste plekke behaal, en na die Ubuntu-provinsiale spele deurgedring.”
Dit het op 30 en 31 Mei in Upington plaasgevind. Die o.13-span het tweede geëindig, en na die nasionale spele in Polokwane in Limpopo deurgedring. Dit vind vanaf 24 tot 26 Julie by die Hoërskool Pietersburg plaas.
Die o.14-span het eerste geëindig en speel die afgelope drie jaar op nasionale vlak. Hulle neem van 31 Julie tot 2 Augustus aan die Suid-Afrikaanse Skole Netbaltoernooi by die EG Jansen-skool in Boksburg deel.

“Ons is baie trots op hierdie meisies. Hulle kom van ‘n arm gemeenskap waar dwelms, alkohol, armoede en tienerswangerskap die oorhand vat. Sport is die enigste manier om van hierdie omstandighede weg te kom.”
Tieties en Gesina Roux bied elke dag netbalafrigting aan.
Die skool is ongeveer 36 jaar oud, en netbal word lank reeds beoefen. Die netbalspanne neem die afgelope vyf jaar aan die distrik- en provinsiale spele deel. Verlede jaar het hulle die eerste keer aan die Hoops en Fast Five deelgeneem, en ook na nasionale vlak deurgedring.
Die sportgeriewe van dié geen-fooi-skool is ‘n uitdaging.
“Ons speel nog op die ou sementblad en kry baie min borge om sport voort te sit, veral as ons deurdring om nasionaal deel te neem. Die leerlinge moet in baie gevalle werk om deelname moontlik te maak. Boonop ondersteun ouers die skoolgeleenthede baie swak. Ons moet regkom met minimale sporttoerusting want geld is uiters beperk. Wanneer ons sporttoerusting moet koop, moet ons borge soek.
“Ander sportkodes by die skool sukkel ook; die sokkerveld by die skool is net grond.
“Sportdeelname wys hulle die lewe daar buite, en dat dit nie net oor Grootdrink gaan nie. So word hul horisonne verbreed. Ek moedig hulle aan om hard te leer en werk om eendag vir die Proteas te speel. Hulle weet alles is moontlik, en hulle weet om die Here te vertrou.”
Raymond Tieties, afrigter en onderwyser
Hy geniet dit “verskriklik baie” om die leerlinge te help omdat hy self uit ‘n moeilike huislike lewe kom.
“Ek wil graag sien ons kinders in Grootdrink kom iewers in die lewe. Ek bied lewensoriëntering aan en weet die lewe hier buite is rof. Dit breek my hart om ons kinders te sien verwaarloos.”
- Skryf aan tietiesraymond@gmail.com of skakel 063 567 7687 om ondersteuning aan te bied.





You must be logged in to post a comment.