BOTHAVILLE – Tussen die gedreun van trekkers, die indrukwekkende landbou-uitstallings en die bekende stofpaaie van die terrein, het vanjaar se Nampo-oesdag weer die veerkragtigheid, samehorigheid en trots van Suid-Afrika se landbougemeenskap ten toon gestel.
Nampo-oesdag, wat van 12 tot 15 Mei buite Bothaville aangebied is, het duisende besoekers, boere, uitstallers en betrokkenes in die landboubedryf van oor die land heen getrek.
Die vierdaagse byeenkoms word as een van die grootste landbouskoue in die Suidelike halfrond beskou en het weer bewys waarom dit ‘n jaarlikse hoogtepunt op die landboukalender bly.
Benewens die nuutste landboutegnologie, moderne implemente en groot handelsuitstallings wat groot belangstelling gewek het, het baie besoekers die sigbare polisieteenwoordigheid geloof wat deurgaans ‘n veilige en ordelike atmosfeer verseker het. Lede van die SAPD het uitgebreide patrollies op die Nampo-terrein en omliggende parkeerterreine uitgevoer om te verseker dat families, uitstallers en motoriste die geleentheid met gemoedsrus kon bywoon.
Beamptes van Bothaville-sigbarepolisiëring; die berede eenheid van Bloemfontein; Welkom- openbare orde polisiëring; en die Welkom K9-eenheid het saamgewerk om hoësigbaarheidspolisiëring te handhaaf – te voet, per voertuig en te perd.
Van die opvallendste tonele op die terrein was die berede polisielede wat die uitgestrekte parkeerterreine onder die Vrystaatse son gepatrolleer het.
Sersant Mothusi Mjika op sy 24-jarige perd, Awakening, en sersant Sibusiso Mzizi op sy perd, Shakira, het die suidelike parkeergebied fyn dopgehou ter wille van die besoekers se gemoedsrus. Vir talle families en boere het die berede patrollies nie net sekuriteit gebied nie, maar ook ‘n gevoel van rustigheid en vertroue by ’n byeenkoms wat jaarliks enorme skares trek.
Volgens die polisie was die fokus van die operasie om te verseker dat besoekers die skou veilig kon geniet, terwyl uitstallers en sake-eienaars hul bedrywighede in ‘n veilige en misdaadvrye omgewing kon voortsit.
Toe die laaste besoekers Vrydagmiddag die terrein verlaat, is die Nampo-oesdag van 2026 wyd beskou as groot sukses – nie net vanweë die landbou-innovering wat uitgestal is nie, maar ook danksy die gees van samewerking, veiligheid en gemeenskap wat die geleentheid moontlik gemaak het.






