VRYSTAAT – Die Nala-plaaslike munisipaliteit se bestuurder, Sekonyela Lehloenya, het ‘n sperdatum gemis om antwoorde te verskaf oor die dood van Chris Foord (9), wat meer as twee maande gelede na bewering weens blootstelling aan elektriese infrastruktuur oorlede is.
Die VF Plus het vrae aan Lehloenya gerig oor gebeure wat tot die kind se dood gelei het, asook oor die toestand van die munisipaliteit se paaie en geboue.
Tydens ‘n raadsvergadering op 31 Maart het die munisipale administrateur, Amos Goliath, gesê dat antwoorde op belangrike vrae wat politieke partye stel lankal verskaf moes gewees het. Hy het die munisipale bestuurder opdrag gegee om binne sewe dae die uitstaande antwoorde te verskaf.
Die sperdatum van 13 April het verstryk sonder dat die antwoorde verskaf is.

Die VF Plus het gesê dat hulle verdere stappe sal neem om aanspreeklikheid te verseker. Die party het ook gesê dat ander kwessies, insluitend die beheer van rondloperdiere tydens die bek-en-klouseerkrisis, steeds nie aandag kry nie.
Net na Chris se dood in Februarie het sy skool hierdie boodskap op Facebook geplaas:
Met diepe hartseer neem ons kennis van die afsterwe van Chris Foord.
Chris was in 2025 deel van ons skoolgemeenskap in Graad 1, waarna hy in 2026 sy skoolloopbaan by Laerskool Loskuil in Graad 2 voortgesit het. In sy kort tyd by ons het hy ’n blywende indruk gemaak.
Hy was ’n kragtige rugbyspeler, geliefd deur sy onderwysers en maats, en bekend vir sy lewenslus en energie.
Ons betuig ons opregte simpatie aan die Foord-gesin, hul familie en vriende.
Mag julle troos vind in die herinneringe wat altyd sal voortleef.
Hy het geleef. ![]()







You must be logged in to post a comment.