Kurt Schoonraad
Kurt Schoonraad Foto: Gys Loubser

Die Suidoosterfees word vanjaar van 29 April tot 3 Mei aangebied. Die feestema is “Tuiste” en die komedie-vertonings gaan feesgangers heerlik tuis laat voel.

TygerBurger is ‘n trotse mediavennoot van die fees en nooi lesers uit om vir ‘n rukkie weg te breek van die wêreld se probleme en hulle aan die terapie van lag oor te gee.

Die fees brei vanjaar verder uit as die Kunstekaap-teaterkompleks. Komedie-vertonings sal in die POP24 Studio in die Media24-gebou, asook in die Kaapstad-Burgersentrum aangebied word.

Reeks

Die Cape Town Comedy Club bring ‘n reeks vertonings na die Suidoosterfees – ‘n vrolike viering van skerpskerts-komedie as kultuur, kuns en suiwer plesier.

Die reeks CTCC @ SOF bestaan uit drie aandvertonings.

Op Werkersdag is Jared Pillay die aanbieder van CTCC @ SOF 1, met Keenan Cerf, Candace Fortune en Robin Dunlop. CTCC @ SOF 2 volg op Saterdag 2 Mei met Mel Jones, Jam Jam, Wesley Paulse en Nathan Levinrad. Die reeks sluit op Sondag 3 Mei af met CTCC @ SOF 3, waarin Phil de Lange, Lindy Johnson, Khanyisile Ngwenya en Nishen Pathet die lagspiere kielie.

Wesley Paulse
Wesley Paulse

Skreeusnaaks

In Jaryd Pillay Live bring die gewilde komediant sy kenmerkende waarnemings en stories na die verhoog. Kurt Schoonraad: Funny Side Up neem gehore op ‘n skreeusnaakse reis deur die eienaardighede van die moderne lewe. Dave Levinsohn vier 26 jaar in die bedryf in Look What You Made Me Do met van sy briljantste komiese oomblikke.

Ouma en die ou koeie
Margit-Meyer Rödenbeck en Coenraad Rall is te sien in ‘Ouma en die ou koeie’. Foto: Hans van der Veen

Ouma en die ou koeie bring Margit-Meyer Rödenbeck en Coenraad Rall op die verhoog byeen. Hierdie nostalgiese maar skreeusnaakse produksie speel met herinneringe en halwe waarhede.

‘n Vars stem op die komedietoneel is Arlene Petersen in Plain Jane, waar sy alledaagse flaters met humor takel.

Smile FM is vanjaar die Suidoosterfees se amptelike radiostasie. Komedie word ondersteun deur Biggi Popcorn, VIA, TygerBurger, People’s Post en City Vision. Die hoofborge van die Suidoosterfees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV en Kunstekaap.

Besoek suidoosterfees.com vir meer besonderhede en die volledige feesprogram.

Kaartjies is beskikbaar by Webtickets.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article