‘n Nuwe hoofstuk wag op die geskiedkundige Kleinplasie in Worcester – in die hande van ‘n nuwe eienaar.
Dié stuk grond, waarvan die wortels diep in die geskiedenis van die dorp verweef is, sal op 17 en 18 September op ‘n openbare veiling verkoop word. Die veiling sal aanlyn plaasvind, in pas met die vereistes van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en verwante regulasies, het die Breedevallei-munisipaliteit gesê. Dit is om ‘n deursigtige, regverdige en mededingende proses te verseker.
Die proses sal deur ‘n onafhanklike afslaer, Claremart Group, behartig word. Hulle is ná ‘n openbare tenderproses aangestel.
Die 200 000 m²-Kleinplasie is een van Worcester se oudste erfeniseiendomme en lê na aan die hart van baie inwoners wat herinneringe aan die landbouskoue en matriekafskeidsgesellighede van vervloeë dae koester.
Die munisipaliteit het op 27 Mei ‘n raadsbesluit geneem om die eiendom te vervreem en op ‘n openbare veiling van die hand te sit. Die afgelope paar jaar het die eiendom al meer agteruitgegaan en dit was veral sedert die Covid 19-epidemie moeilik om winsgewend te bedryf. Hoewel die Mega Oval-motorrenbaan, ‘n aantal historiese geboue en die skou se blommesaal, nywerheidsaal en die Pietman Hugo-saal deel van die eiendom is, word die aangrensende Worcester-museum nie deur die verkoop geraak nie. Die Mega Oval-baan het ‘n huurkontrak tot aan die einde van vanjaar.
LEES OOK HIER: Diewe rig groot skade aan by Mega Oval-baan op Kleinplasie

Die munisipaliteit het in die raadsbesluit gestipuleer dat die eiendom vervreem word vir die doeleindes van plaaslike ekonomiese ontwikkeling en/of toerisme en/of sport en ontspanning en/of opvoeding.
Daar is ook besluit dat die koper die historiese geboue in stand moet hou en ingevolge die vereistes van Erfenis Wes-Kaap, die munisipaliteit se stadsbeplanningsafdeling en die Worcester Erfenis- en Bewaringskomitee moet restoureer. Die geskiedkundige geboue op die terrein sluit in die ou Roodewal-hoofopstal, die jonkmanshuis, die ou wynkelder en twee arbeidershuisies. Dit sluit ook die ou werf rondom die hoofopstal en die Italiaanse Krygsgevangene-obeliskmonu- ment uit die Tweede Wêreldoorlog in.
Die kostes van die hersonering, oordragkostes en die aanlê van munisipale dienste sal deur die koper gedra word.
Geskiedenis van Kleinplasie
Voor die 1700’s was die Breedevallei ‘n jagtersparadys, met weidingsregte wat in later jare aan boere toegeken is, lui ‘n inligtingstuk van Worcester-toerisme.
Pieter du Toit d’Oude het in 1746, nadat hy vir 15 jaar in Brandwacht gewoon het, weidingsregte op Roodewal, soos Kleinplasie aanvanklik bekend gestaan het, gekry. Ná Du Toit se afsterwe in 1793 het sy seuns voortgegaan en die Roodewal-opstal is waarskynlik in dié tyd gebou. In 1818, gedurende die Britse tydperk, is die plase Roodewal en Langerug deur die regering van die Kaapse kolonie gekoop.
Van 1820 tot 1829 is Roodewal as die eerste drostdy (kantoor en woning van die landdros) en poskantoor in Worcester gebruik. Van 1829 af het Roodewal diens gedoen as die NG Moedergemeente se eerste pastorie en daarna het die dorp se eerste dokter daar tuisgegaan.
In die 1960’s en 1970’s het die grond aan ‘n Franse maatskappy, Hex River Textile Mills (HexTex), behoort. Met die maatskappy se likwidasie is besluit om die geskiedkundige geboue te sloop en die plaas in nywerheidshoewes te verdeel. Danksy die ingryping van die provinsiale raad is hierdie planne laat vaar. Die Worcester-landbouvereniging het betrokke geraak en die grond vir sy jaarlikse skoue gebruik. Die grond behoort sedert 2015 aan die Breedevallei-munisipaliteit.






You must be logged in to post a comment.