Agri Noord-Kaap is in gesprek met die nasionale en provinsiale departemente van landbou, en water en sanitasie, vir moontlik ‘n derde bespuiting teen ‘n muggieplaag langs die Oranjerivier wat veral vee teister.
So sê Janine Byleveld, bedryfsbeampte van Agri Noord-Kaap.
Die muggies irriteer veral die oog-, oor- en stertgedeelte van vee. Wanneer die diere oop sere het, byt van die insekte voortdurend daaraan wat genesing bemoeilik. Vroulike diere wat soog, raak boonop so geïrriteerd met die muggies dat hulle die kalwers of lammers weghou. Diere kan uitgeteer en verswak raak.
“Die taakspan het in Augustus met spuitaktiwiteite teen muggiebeheer begin, asook gepaardgaande navorsing en monitering.
“Daar is verlede week vanaf Maandag tot Donderdag bespuiting vanaf Blouputs op teen die rivier gedoen waar riviervlakke laer is. Aanvanklik kon alle gebiede nie gespuit word nie weens die hoë riviervlak, veral by Blouputs. Sedert die afgelope Maandag het die riviervlak gedaal, wat dit moontlik gemaak het om die hele beplande gedeelte te spuit. Die resultate is wisselvallig. Sekere areas toon reeds ‘n afname in muggiegetalle, en ander nie.”
Opvolgwerk vir spuitwerk wat in Oktober moet plaasvind, het reeds begin.
“Hoewel die departement slegs vir twee maande se spuitwerk beplan het, is ons in gesprek om die program te verleng. Ons het ook met navorsers gepraat om die omvang en ander kwessies rondom die insekplaag te bepaal.”
Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier Landbou-unie by Groblershoop, sê ná die bespuitings in Augustus en September is daar reeds ‘n merkbare afname in getalle.
“Die bespuiting maak slegs nuwe larwes dood, nie volwasse insekte nie. Daar is kommer oor insekte wat in stilstaande water kan uitbroei, maar ons benodig meer navorsing om antwoorde te verkry oor of dit ‘n ander soort muggie is.”
‘n Helikopter spuit die plaagdoder by raaswaters, waar eiers op rotse gelê word en larwes uitbroei. Raaswaters is stroomversnellings waar die rivier vinnig vloei en klippe naby die oppervlak is. Die plaagdoder het geen invloed op volwasse insekte nie.
Volgens Fourie sal ‘n derde bespuiting ook deur die riviervlak bepaal word – indien die vlak te hoog is, sal die bespuiting nie doeltreffend wees nie.
Die bespuiting word in samewerking met die departement van water en sanitasie – wat die watervlakke moet bestuur deur water uit damme in die rivier vry te laat – en ook Eskom gedoen. Laasgenoemde wek hidro-elektriese krag uit die rivier op.



