Middelpos in die Bo-Karoo, een van die min oorblywende outentieke Karoo-dorpies in Suid-Afrika, word volgende maand op ‘n veiling te koop aangebied. Dié dorpie is langs die R354 ongeveer halfpad tussen Sutherland en Calvinia in die Noord-Kaap geleë.
Home & Hectare wat die veiling behartig, sê Middelpos met sy rustige atmosfeer, asook oorspronklike karakter en sjarme, behou die kulturele erfenis van lank gelede, onaangeraak deur moderne massatoerisme. Dié agentskap bevestig ook dat Middelpos nié intussen privaatverkoop is nie, soos wat op sommige Facebook-plasings beweer word.

Besoekers en voornemende kopers moet bereid wees om grondpad te ry, wat ‘n algemene verskynsel in dié deel van die Bo-Karoo is. Bergpasse, uitsigte oor die Tankwa-vallei en die Sederberge in die verte is maar enkele van die belewenisse om in dié dorp te bly en die omgewing te verken.
Ongeveer 30km vanaf Middelpos is die Gannaga-pas wat as die vinnigste roete oor die Roggeveld-plato na die Tankwa Karoo Nasionale Park beskou word. Dié pas is deur die beroemde Thomas Bain opgemeet, maar die finale konstruksie daarvan het eers tydens die Groot Depressie plaasgevind.
Dorp ontstaan met oprig van handelswinkel
Middelpos het ontstaan ná die oprig van ‘n handelswinkel deur Daniel Tomlinson nadat hy in 1860 ‘n deel van die plaas Stinkkuil van ‘n boer van die omgewing gekoop het. Ná sy dood het die Sher-familie, van Joodse Litause-afkoms, die winkel gekoop en die omliggende gebiede – die Tankwa Karoo, Sutherland, Calvinia en Williston – bedien.


Die akteur Sir Anthony Sher KBE, wat in die Verenigde Koninkryk tot ridder geslaan sou word, is ‘n afstammeling van dié Sher-familie. Hoewel hy Suid-Afrika in 1968 verlaat het, het hy die boek, Middlepost, geskryf. Dit handel oor die ervaringe van Litause Jode in Suid-Afrika.
“Owning a place like this requires a reason for people to come, stay, and spend. Without that, even the strongest settlements become suspended in time. The sale of Middelpos presents a possibility for reinvention, whether as a tourism hub, an artist retreat, or an escape from urban life. There is also the option to leave it largely as it is, allowing the town’s stillness to remain its defining feature,” skryf Naomi Roebert in Karoo Times.
Koop die dorp, met hotel, winkel en wat nog
Die 103,2-hektaar wat op veiling aangebied word, sluit die volgende in:
- hotel
- winkel
- fabrieksgebou
- drie woonhuise in ‘n goeie toestand
- saal vir byeenkomste
- ou poskantoor
- boorgat met sterk water
- besproeibare grond van 4,75 hektaar
Die bodproses begin op 21 Mei om 12:00 en sluit op 22 Mei om 12:00.






You must be logged in to post a comment.