'n Missiel trek oor Dubai op Saterdag 28 Februarie. Foto: AFP
‘n Missiel trek oor Dubai op Saterdag 28 Februarie. Foto: AFP

“Dit is skrikwekkend, maar ons is veilig.” Dit blyk die algemene gevoel onder Suid-Afrikaners wat nou in Golfstreek in die Midde-Ooste woon, te wees.

Die Verenigde State van Amerika en Israel het Saterdag met aanvalle op verskeie militêre en politieke teikens in Iran begin, wat tot vergeldingsaanvalle deur Teheran gelei het. Iran het intussen Amerikaanse basisse in verskeie Golflande, insluitend die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Bahrein, Katar, Koeweit en Sirië, begin teiken.

Volgens berigte van AFP het missiele Saterdag en Sondag die woestynlug deurkruis, gevolg deur harde ontploffings en rook naby militêre basisse in onder meer Manama, Abu Dhabi en Dubai.

Die lugruim oor verskeie lande in die streek is as gevolg daarvan gesluit en verskeie lugrederye het vlugte na en via die Midde-Ooste opgeskort. Dit het wêreldwyd tot grootskaalse vlugvertragings gelei. In Suid-Afrika is minstens 14 vlugte na Doha en Dubai geraak.

LEES OOK: Middle East conflict disrupts 14 flights at South African airports

Suid-Afrikaners deel hul ervarings

Tracy Lange, ’n radio-omroeper van KFM wat nou in Dubai kuier, het op haar Facebook-blad geskryf hulle is veilig, ondanks die harde ontploffings wat vroeër gehoor is.

“Dit was skrikwekkend, maar ons is tuis. Die regering het ’n waarskuwing uitgereik waarin mense aangemoedig word om binne te bly en ons verseker dat hulle alles moontlik doen. Alles is redelik vreedsaam en rustig,” het sy geskryf.

Tracy Lange
Foto: Facebook

‘n Oud-Bellvilliet wat weens die aard van sy werk in die VAE nie geïdentifiseer kan word nie, het gesê die VAE-leiers se vertroue in hul verdedigingsvermoëns en om inwoners veilig te hou is gerusstellend.

“Die aanvalle is nie op burgers gemik nie, maar op die VSA-lugmagbasis. Enige skade tot dusver was kollaterale skade van onderskepte missiele, eerder as geteikende aanvalle. Solank ons binnenshuis bly, behoort ons veilig te wees.”

Trudie de Vries, ‘n oud-Worcesteriet wat nou in Dubai woon, het die sentiment beaam. Sy sê die VAE-regering het die situasie onder beheer. “Alles word afgeskiet, so dit is net die wrakstukke wat bietjie skade kan veroorsaak. Daar is nie rede vir paniek nie, alles is veilig en onder beheer. God se hand is daaroor.”

Francis Fourie van Wellington, wat in Abu Dhabi woon, sê hulle is dankbaar vir boodskappe van ondersteuning van regoor die wêreld. “Ons is veilig en ongedeerd. Dit is ’n skrikwekkende situasie, maar ons glo God is in beheer. Hou asseblief aan om vir die situasie te bid.”

Dillon Martin, ’n Paarliet wat reeds ’n paar jaar in Doha werk, sê hoewel missiele oor die gebied beweeg het, is dit gerusstellend dat die teikens Amerikaanse basisse is en nie burgerlike gebiede nie.

“In hierdie stadium is ons veilig. Dit bly moeilik om heeltemal kalm te bly. Dit is ook moeilik om aan familie by die huis te verduidelik dat dinge nie so erg is soos wat hulle dink nie.”

Martin sê dit is asof mense tuis dink hulle kruip weg en hardloop rond terwyl die bomme val, maar dit is nie die geval nie. Hulle is wel aangeraai om binnenshuis te bly want wanneer die missiele afgeskiet word, kan die wrakstukke wat val, skade veroorsaak.

“Dit is die grootste risiko in hierdie stadium”, sê hy.

Suid-Afrikaners in Saoedi-Arabië het aangedui dat die situasie daar voorlopig kalm is, insluitend in die hoofstad Riaad, waar die VSA se militêre magte ingevolge ’n ooreenkoms met die plaaslike regering ’n teenwoordigheid het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article