Die reën van die afgelope maand is wyd verwelkom en ons hoop vir nog baie water hierdie winter. Maar al het die hemele nou oopgemaak, mag ons nooit water as vanselfsprekend neem nie.
’n Skaarste aan water het deur die eeue heen boere oor waterregte laat vuisslaan. En sommige deskundiges beweer die vermindering van hierdie lewensbron oor die wêreld heen kan op ’n stadium tot ’n grootskaalse oorlog lei.
Van kindsbeen af ken ek droogte. Dit het my ’n baie gesonde respek vir water geleer.
Ek was altyd net ’n kuiergas, maar reeds as kind het ek my hart aan die Karoo verloor. Dit was deel van my vormingsjare en dis ’n liefde wat ek byna ‘n halfeeu later steeds koester.
Ek was 12 jaar oud toe ek saam met Koos Vos op die Karoo-vlaktes tussen Carnarvon en Van Wyksvlei begin “boer’’ het. In dié tyd was boere hier se moed behoorlik op weens jarelange droogte. Die aarde was swart geskroei, en die veld het eweneens soos ’n doodskleed gelyk.
Dus het ek hier met die intrapslag geleer dat jy nie ‘n kraan oopdraai tensy dit werklik nodig is nie.
Ek was pal saam met Koos Vos in die veld en dit was hartverskeurend om die dooie lammertjies onder bossies te sien lê. Of swak lammertjies wat met hul laaste krag aan hul ma’s suig, maar tevergeefs. Die spene is leeg. Uiteindelik strompel die tak-maer beentjies weg, wankel en val.
Koos Vos raak al hoe moedeloser. Ek voel sy verdriet, en lees die verlange na reën in sy oë.
Ná skool reis ek vir ’n paar jaar in die buiteland. Met my terugkeer klim ek op die Trans-Karoo – want my siel het die ooptes nodig.
Maar op Koos Vos se Humansdam is dit somber, want sedert my vorige besoek drie jaar tevore het die reën weggebly en die boerdery is op die rand van ’n afgrond.
Een middag kom ons van die veld af. Die wolke trek ligtelik saam. Ek hou hulle goed dop. Spierwit wolke. Maar Koos Vos is al só moedeloos oor beloftes van reën, hy lig nie eens sy oë na die hemele nie.
Toe die grootmense later gaan skuins lê, dwaal ek op die werf rond. Die wolke raak al hoe donkerder. Skielik tref iets soos ’n klippie my voorkop. Ek staan vir ’n oomblik doodstil. Nóg ’n klippie. En toe begin dit drup. Die druppels wat teen my vel plons, is só groot, dit maak byna seer. Eers val dit net effe, maar meteens stort dit só erg, ek moet hardloop.
Dit reën kliphard. Dit reën die stilte van die droogte weg. Die wolke stamp kop. Dit donder. En agter die gordyne dans die blitse.
Nou is die huis wakker. Ons verwonder ons aan die reëngordyn wat voor ons val.
Ná ’n uur bedaar dit. Almal haas hulle buitentoe, veld toe. Waar die geskroeide aarde vroeër die dag gelê het, blink nou oral riviertjies. Ons ry diepveld in, tot heel aan die ander kant van die plaas teen die voetheuwels van die Dwaalberg. Hier kyk ons uit oor die delta water wat al op die vlaktes gevorm het.
’n Skaduwee trek oor ons. Dis ’n flambojansie van diep-pienk flaminke wat in een van die panne neerstryk, asof om finaal aan te kondig die droogte is gebreek.
Maar droogtes kom terug – keer op keer. Boere verloor hul grond, hul moed, hul lewenslus. Al wat bly, is hoop. Dat die flaminke weer sal kom.





