KAAPSTAD – ‘n Emosionele en dankbare viering het onlangs vir die Wagenaar-gesin van Kraaifontein aangebreek toe klein Ava Wagenaar net voor haar sesde verjaarsdag kankervry verklaar is.
Volgens haar ma, Chanelle Wagenaar, was die nuus ‘n oomblik wat hulle nooit sal vergeet nie. Ava het verlede Dinsdag (12 Mei) die goeie nuus ontvang en verlede Vrydag (15 Mei) het sy verjaar.
“Dit was ‘n oorweldigende oomblik van dankbaarheid en verligting. Om te hoor dat Ava kankervry verklaar is, net dae voor haar sesde verjaarsdag, voel soos ‘n geskenk. Ons het gehuil, gebid, want al die eer, al die lof kom God toe,” sê Chanelle.

Leukemie, ‘n vorm van bloedkanker, is op 13 Februarie 2023 by Ava gediagnoseer nadat haar gesin opgemerk het dat sy nie meer ‘n eetlus gehad het nie, bloedblasies wat in haar mond ontwikkel het, sy saans koorsig was en nie meer self wou loop nie.
“Toe ons die diagnose ontvang het, het my wêreld gaan stilstaan. Die eerste gedagte was: ‘Dood’, want almal weet kanker is ‘n ernstige siekte. Maar vinnig daarna het dit verander na: ‘Ons gaan veg en ons gaan nie alleen veg nie’.”
Ava se behandeling het gereelde chemoterapie en lumbale punksies ingesluit by Tygerberg-hospitaal. Volgens haar ma het sy die moeilike proses met ongelooflike moed aangepak.
“Ava is ‘n brave, sterk, vrolike, dapper, koppige, omgee- en liefdevolle sesjarige. Sy hou van sing, dans en speletjies speel. Ten spyte van alles, het sy haar glimlag behou en laat sy mense om haar gemaklik voel.”
Sedert Ava in remissie is, verbeter haar gesondheid ook goed. Volgens Chanelle sien Ava nou daarna uit om weer ‘n gewone kinderlewe te geniet.
“Ava sê sy is bly sy is nou gesond. Sy is baie excited om weer soos ‘n normale dogter te wees. Sy sê ook dat sy wel al haar maatjies by die hospitaal gaan mis en al die dokters en susters. Maar sy is baie excited om nie meer drippies te kry nie en vir lumbar punctures te gaan nie, want dit het haar seer en moeg gemaak.”
Vir Chanelle lê die grootste vreugde nou in die eenvoudige dinge van die lewe.
“Ek sien uit daarna om Ava te sien grootword sonder hospitaalbesoeke; om gewone mamma-dinge te doen soos skooluitstappies, verjaarsdagpartytjies en net gewone dae saam.”
Sy sê haar geloof en ondersteuning uit die gemeenskap het haar deur die moeilike tyd gedra.
“My geloof, my familie en die ondersteuning van vriende, kerk en gemeenskap het my staande gehou. Ek was baiekeer bang, maar vrees het nie die laaste woord gehad nie en biddend het ek gebly en my vertroue in God geplaas.”

Chanelle het ook haar dankbaarheid teenoor almal wat hulle ondersteun het, uitgespreek.
“Eerstens wil ek dankie sê aan ons almagtige Koning Jesus, want sonder Hom was dit nie moontlik nie. Dankie aan die dokters, verpleegsters en familie. Ek waardeer almal se gebede en ook dat julle nie sal ophou om vir my en Ava in jul gebede te hou nie.”
Aan ander ouers wat soortgelyke uitdagings beleef, het Chanelle ‘n boodskap van hoop.
“Bly op jou knieë en bly biddend; moet nooit hoop verloor nie en plaas jou vertroue in die Here. Vat dit een dag op ‘n slag. Vra vir hulp. Moenie bang wees om te huil nie en hou vas aan hoop – daar is mense wat omgee en daar is krag groter as ons.”







You must be logged in to post a comment.