Wêreldhongerdag 2026 gevier by die CVO-skool in Volksrust.
Wêreldhongerdag 2026 gevier by die CVO-skool in Volksrust.

Meer as 40 projekte bring hoop op Wêreldhongerdag 2026


Van komberse in Colesberg en sopkombuise in die Wes-Kaap tot bingo-oggende vir bejaardes in Limpopo en kinders wat leer om hul broodjies met maatjies te deel in die Vaaldriehoek.

Só het Solidariteit Helpende Hand se streke, takke en vrywilligers reg oor Suid-Afrika vanjaar Wêreldhongerdag aangepak deur meer as 40 aksies en projekte onder die tema “Honger vir Hoop” aan te bied.

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, gaan honger oor baie meer as net kos. “Ons weet mense is nie net honger vir kos nie. Hulle is honger vir hoop, vir werk, vir geleenthede, vir die toekoms en vir oplossings. Wêreldhongerdag herinner ons daaraan dat ons nie die probleem in een dag gaan oplos nie, maar dat ons saam aan oplossings kan begin bou,” sê Noëth.

Helpende Hand se landwye veldtog het vanjaar gefokus op verskillende vorme van honger, insluitend fisiese honger, emosionele honger, geestelike nood, eensaamheid, die behoefte aan menswaardigheid en selfs “honger vir lees” en onderrig.

Inwoners van Huis Marie Louw in Somerset-Wes vir Wêreldhongerdag.
Inwoners van Huis Marie Louw in Somerset-Wes vir Wêreldhongerdag.

In die Wes-Kaap het takke boeke aan skole en gemeenskapsprojekte geskenk om geletterdheid te bevorder, terwyl ander takke sop, brood en noodvoorrade aan kwesbare gemeenskappe versprei het.

In die Suid-Kaap het skole en kleuterskole blikkieskos en niebederfbare produkte ingesamel om reeds op ‘n jong ouderdom ‘n kultuur van omgee en deel te vestig.

In Colesberg stel Helpende Hand se plaaslike tak weer 30 komberse beskikbaar vir seniors en kinders wat gedurende die wintermaande sukkel om eredienste by te woon weens koue weersomstandighede.

In die Oos-Kaap het vrywilligers ouetehuise besoek, saam met bejaardes gekuier en warm eetgoed, serpe en gebreide mantels uitgedeel om die “honger vir geselskap” aan te spreek. In KwaZulu-Natal is nie-bederfbare kos ingesamel en gebruik om ma’s te leer hoe om verantwoordelik te begroot en inkopies te doen.

Takke in Gauteng, Noordwes, die Vrystaat en Limpopo het op hul beurt projekte aangepak wat wissel van voedingskemas en skenkings aan tehuise tot bewusmakingsveldtogte, eetstakings, gemeenskapsopleiding en fondsinsameling vir studiefondse.

In die Oos-Rand het vrywilligers besoek aan tehuise afgelê om die “honger vir geselskap” aan te spreek en terselfdertyd bewusmaking oor Wêreldhongerdag te skep. In Volksrust het Privaatskool Amajuba, ‘n klein CVO-skool met slegs 18 leerlinge, ook vir Wêreldhongerdag kos en klere ingesamel.

Volgens Helpende Hand wys die inisiatief dat selfs klein gemeenskappe ‘n groot verskil kan maak wanneer mense saamstaan en deel wat hulle het.

Vrydag, as deel van die “Honger vir Hoop”-veldtog in samewerking met Pretoria FM, word Suid-Afrikaners ook uitgedaag om prakties betrokke te raak deur vir die dag te vas en die geld wat hulle normaalweg aan kos sou spandeer, aan Helpende Hand se voedingsprojekte te skenk. Skoolleerlinge word terselfdertyd aangemoedig om hul snoepiegeld vir een dag op te offer om ‘n verskil in ‘n ander kind se lewe te maak.

Volgens Helpende Hand gaan die veldtog nie net oor fondsinsameling nie, maar oor die skep van ‘n kultuur van deel, omgee en gemeenskappe wat mekaar dra in moeilike tye.

Die organisasie hoop om vanjaar die ekwivalent van 50 000 borde kos teen R20 per bord in te samel om nood reg oor Suid-Afrika te help verlig.

Mense wat by die veldtog betrokke wil raak, kan ‘n skenking maak by.

“Om honger te gaan slaap is sleg. Om honger op te staan is sleg. Om honger skool toe te gaan of werk toe te gaan, is sleg. Daarom vra ons op Wêreldhongerdag: Hoe kan ek iets van dit wat ek het met iemand anders deel?” sê Noëth.

“Baie mense dink hulle kan nie ‘n groot genoeg verskil maak nie, maar selfs ‘n klein bydrae beteken vir iemand hoop. Dit gaan nie net oor ‘n bord kos nie. Dit gaan oor waardigheid, ondersteuning en die gevoel dat iemand omgee.”

Hy beklemtoon dat volhoubare oplossings belangrik bly. “Ons wil nie mense afhanklik maak van aalmoese nie. Ons wil gemeenskappe help bou wat mekaar dra, ondersteun en versterk. Daarom probeer Helpende Hand nood op ‘n geordende en gestruktureerde manier aanspreek sodat hoop weer moontlik word.”

Helpende Hand doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om nie Wêreldhongerdag as bloot ‘n simboliese dag te sien nie, maar as ‘n geleentheid om prakties betrokke te raak in hul gemeenskappe. “Ons kan nie alles verander nie, maar ons kan begin deur vandag iets te deel van dit wat ons het,” sluit Noëth af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article