melting gold with blowtorch
Ter illustrasie FOTO: Tomáš Malík / pexels.com

POSTMASBURG – ‘n Man is in Postmasburg in die Noord-Kaap in hegtenis geneem en aangekla van die besit van ‘n vermoedelik onwettige gesmelte goudstaaf waarvan die waarde op ongeveer R10 miljoen geraam word.

Lt.kol. Tebogo Thebe, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoek (Valke), sê die verdagte, die 52-jarige Itumeleng Dinku, het op Maandag 23 Junie vlugtig in die Postmasburg-landdroshof verskyn.

Dinku is deur polisielede in Postmasburg in hegtenis geneem nadat inligting ontvang is dat iemand daar ‘n goudstaaf in Mountainview verkoop.

Met hul aankoms by die geïdentifiseerde eiendom het die polisielede ‘n swaar goudstaaf in die huis gevind wat versteek was.

Die verdagte kon nie verduidelik hoe hy in besit van die staaf gekom het nie. Hy is in hegtenis geneem.

Die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige korrupsie het die ondersoek oorgeneem en die beskuldigde op Maandag 23 Junie voor die hof gebring.

Die saak is tot 7 Julie vir ‘n formele borgtogaansoek uitgestel.

Die goudstaaf wat by ‘n verdagte persoon in Postmasburg gevind is. Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 270499
    Vista E-edition 10 July 2025