WORCESTER – ’n Gesin van die plaas Alfalfa in die Scherpenheuvel-distrik buite Worcester se Paasnaweek het op ’n tragiese noot begin toe ’n jong man op Goeie Vrydag sy tweelingbroer na bewering met ’n krat doodgeslaan het.
’n Bebloede Frederick Moos (21) het minute na die gru-voorval voor sy ouerhuis in sy ma, Miena Claasen (44), se arms gesterf.
’n Hartseer Miena vertel aan Standard Breederivier Gazette dat Frederick die oggend van die voorval omstreeks 08:00 saam met sy stiefpa, Booi Claasen, gaan bier koop het.
“Na ’n rukkie is ek na ’n vriendin van my, want ek wou hê sy moes saam met my ’n bier hier by my huis kom drink.
“Toe ek terug by die huis kom toe lê hy (Frederick) hier buite [voor die huis]. Hy het na my geroep en gesê ‘mammie, ek is lief vir jou. Jy moet jouself oppas’.

“Ek vra hom toe ‘wat gaan aan en hoekom praat jy so’.
“Hy het op sy sy gelê en baie gebloei. Daar het bloed uit sy mond, neus en ore gekom. Aan die kant van sy kop was drie blou houe.”
Volgens Miena wou sy haar seun ’n drukkie gee. Sy sê toe sy onder aan sy gesig vat toe voel sy sy kakebaan is pap geslaan.
“Ek het ’n handdoek gevat om die bloed te probeer keer. Ek het langs my kind gaan lê en hom vasgehou.
“Ek het hom die heeltyd gevra hoe kan hy my hier los, terwyl hy belowe het om vir my te sorg.”
Volgens Miena het ambulanspersoneel Frederick op die toneel dood verklaar. Frederick se broer Franco is kort hierna in hegtenis geneem.
Miena vertel Franco het die heeltyd gehuil omdat hy sy broer wou sien.
Frederick was ongetroud en het nie kinders gehad nie.
“Ek weet nie wat ek voel nie. Alles voel vir my nog so onwerklik. My hart kan nie… Ek weet nie…
“Ek het gister (Goeie Vrydag) nie geweet waar ek moet wees nie. Die een oomblik is ek by Frederick, dan is ek weer by Franco”
Franco sal na verwagting op Dinsdag, 7 April, in die Worcester-landdroshof verskyn.
Begrafnisreëlings is in hierdie stadium nog nie bekend nie.







You must be logged in to post a comment.