moord
Die toneel in die Paarlse Hoofstraat waar die minderjarige die afgelope Sondag (22 Maart) glo doodgesteek is. Foto: Verskaf
Paarl Post

Man helder oordag in Paarl se Hoofstraat doodgesteek

moord
Die toneel in die Paarlse Hoofstraat waar die minderjarige die afgelope Sondag (22 Maart) glo doodgesteek is. Foto: Verskaf

’n Bloedige toneel het hom die afgelope Sondagoggend (22 Maart) helder oordag, in een van die Paarl se besigste strate, ontvou toe ’n jong man in Hoofstraat ná ’n vermoedelike steekvoorval ineengestort en gesterf het.

Die stekery het na bewering omstreeks 11:00 plaasgevind toe die man, wat vermoedelik haweloos was, met ’n skerp voorwerp in die bolyf gesteek is. Hy het op die hoek van Hoof- en Zeederberg Squarestraat ineengesak en is kort daarna dood.

Volgens konst. Ndakhe Gwala, ‘n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, word die omstandighede rakende die noodlottige voorval nog ondersoek.

’n Moordsaak word ondersoek, maar niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Die oorledene is glo 25 jaar oud.

’n Ooggetuie, wat omstreeks 11:30 daar aangekom het, het die toneel as uiters grafies beskryf.

Sy en haar man het voor die Zomerlust Spar parkeer toe sy iets oorkant die pad sien.

Man in Paarl Hoofstraat vermoor
‘n Ooggetuie en haar man het die liggaam probeer bedek vir die publiek totdat die Paarl-polisie opgedaag het. FOTO: Verskaf

Met hul aankoms het hulle op die bebloede liggaam afgekom, waar twee ander mense reeds by die man gestaan en nooddienste ontbied het. Volgens die ooggetuie het dié mense aangedui dat hulle sowat 20 minute tevore – kort ná die voorval – al hulp ontbied het, wat daarop dui dat die aanval omstreeks 11:00 plaasgevind het.

Die man het glo nog gelewe toe hulle by hom was, maar was reeds dood toe die ooggetuie en haar man op die toneel aankom. Hoewel die polisie bevestig het dat die oorledene 25 jaar oud was, meen die ooggetuie hy het aansienlik jonger gelyk.

“Hy was baie kort en skraal en sy gesig het baie jonk voorgekom,” het sy gesê.

Verdere emosies is ontlok toe ’n man na die toneel gehardloop en uitgeroep het dat die oorledene sy broer “Owen” is. “Dis my broer, dis my broer, Owen!” het hy glo geskree, waarna die ooggetuie die onstelde man bygestaan en ondersteun het.

LEES OOK: Geen arrestasies ná dodelike steekvoorval in Wellington

Volgens die man het die aanvaller, wat Owen glo gesteek het, hom reeds die vorige week, op Maandag (16 Maart), gesoek.

Nooddienste het volgens die ooggetuie sowat 35 minute geneem om op die toneel aan te kom.

Sy en haar man het intussen kartonbokse wat naby die ingang van die Spar gelê het, gebruik om die liggaam te verskans sodat dit nie vir die publiek sigbaar is nie.

Die voorval het plaasgevind tydens wat beskryf is as ’n rustige Sondagoggend in dié deel van die dorp, terwyl verskeie omstanders van oorkant die straat toegekyk het hoe die polisie die gebied afsper.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article