“Aan die gemeenskapslede van Macassar, Lwandle en Gordonsbaai wil ek bedank vir die jare se ondersteuning, die vertroue wat julle in my geplaas het, asook die bystand wat julle aan my en die speurtak gegee het.”
Hierdie dankbetuiging merk die einde van ‘n merkwaardige era vir die bevelvoerder van die Macassar-speurtak, wat ná meer as vier dekades uit die polisiediens tree.
Kapt. Andries Geldenhuys neem ná 42 jaar afskeid. Sy laaste dag is Donderdag 30 April. “Ek wou ‘n verskil maak in mense se lewens. Die polisie het my die geleentheid gegee om dit te doen,” sê dié 60-jarige Gordonsbaaier.

Van konstabel tot kaptein
Geldenhuys se polisieloopbaan het op 1 Januarie 1985 begin toe hy as student by Caledon-polisiekantoor ingesweer is. Ná sy opleiding is hy na die Claremont-polisiekantoor uitgeplaas, waar sy eerste werkdag van begin tot einde ‘n bedrywige ervaring was met die bywoning van klagtes op skofte. “Dit was ‘n waardevolle ervaring, aangesien geen kollege-opleiding jou daarvoor kan voorberei nie,” onthou hy.
Sy loopbaan het hom van konstabel in 1985 deur die uniformafdeling tot 1994 geneem. In 1994 is hy na die Strand-polisie verplaas en het kort daarna aansoek gedoen om by die speurtak aan te sluit. Van daar het hy ‘n verplasing na die Gordonsbaai-speurtak geneem en in 2006 speurhoof geword.
Hy is in 2008 tot kaptein bevorder en het die hoof van die nuwe Lwandle-speurtak geword. Geldenhuys sê dit was vir hom ‘n besondere eer toe die destydse provinsiale kommissaris, genl. Mzwandile Petros, hom gevra het om die pos op te neem. Hy is op 4 Januarie 2019 by die Macassar-speurtak as speurhoof aangestel.
Volgens hom was Gordonsbaai sy leerskool. “Dit was die eerste keer waar ek as speurhoof aangestel is en was ‘n nuwe ondervinding.”
Lwandle was ‘n ander soort leerskool waar hy met die realiteit van daaglikse moorde en rooftogte gekonfronteer is. “Die gemeenskap van Lwandle het my ook geraak.” Macassar, waar hy die afgelope sewe jaar was, word gekenmerk deur die groot volume sake wat daagliks aangemeld word. “Elkeen van hierdie stasies het ‘n unieke betekenis,” beklemtoon hy.
Onvergeetlike sake
Geldenhuys sal verskeie sake nooit vergeet nie. Die eerste was die moord op Oom Vlakkie Theron se vrou – sy eerste moordsaak as speurder in Gordonsbaai en eerste hooggeregshof-saak met ‘n skuldigbevinding. Ander sluit in die moord op die Deense burger Preben Polvsen en die vyf-jarige Minentle Lekhatha. Die kleuter is in Junie 2017 in Lwandle deur Solanu Lantu verkrag en vermoor. Haar liggaam is onder ‘n brug in Strand gevind. Lantu is in 2018 gevonnis.
Vir die Polvsen-saak het hy en ‘n kollega, Kobus Greeff, die Wes-Kaapse Prestige-toekenning in die afdeling “Catch of the Year” gewen. Polvsen is in 2008 in sy huis vermoor en 48 keer gesteek. Sy swaer Francis Kimeze het 25 jaar gekry, terwyl sy vrou, Maria, en sy skoonsuster Stella Ssengendo onderskeidelik agt en sewe jaar as medepligtiges ontvang het.
Een van sy grootste prestasies was die inhegtenisneming van ‘n verdagte in 119 inbrake. In 2000 het hy ook ‘n baanbrekende afloerder-saak ondersoek waar kameras in ‘n badkamer geïnstalleer is. “Dit was een van die eerste afloerder-sake in die land,” verduidelik hy.
Uitdagings en veranderings
Die polisiediens het sedert 1985 drasties verander van minder forensiese toegang na beter tegnologiese hulpbronne. Misdaad het gevorder met kuberkrakers en digitale bedrog. “Die misdadigers word weinig opgespoor,” waarsku hy oor Facebook Marketplace-bedrog.
Konstante uitdagings bly “ ’n tekort aan voertuie en mannekrag, asook min oortydgeld aan speurders. Speurders werk lang ure sonder vergoeding en word nie altyd erkenning gegee nie.”
Speurwerk het Geldenhuys se familie-lewe beïnvloed met ongereelde ure en 24-uur-beskikbaarheid, maar hy sê gesinne vind steeds tyd om saam te wees. Hy het die emosionele uitdagings hanteer en met kollegas gepraat, wat help om die emosie uit die werk te haal.
In kontras met hierdie uitdagings koester hy positiewe herinneringe aan sy kollegas. “Alle kollegas het ‘n blywende indruk gemaak – party goed en ander minder goed,” sê hy. “Ek kon leer uit van my kollegas se foute om te verseker dat ek nie dieselfde foute maak nie.”
Erfenis en raad
Hy beskryf sy verhouding met die gemeenskap as een van vertroue. “Hulle het geweet ek was 24 uur beskikbaar. Eerlikheid is belangrik – moenie beloftes maak wat jy nie kan nakom nie.”
Oor lesse uit sy werk: “Sukses is nie maklik nie – eerlike harde werk bring sukses. Jy doen die werk vir dienslewering aan die gemeenskap, nie vir erkenning nie.”
Sy raad vir jong mense wat polisiewerk oorweeg, is duidelik: “As jy werklik ‘n verskil in mense se lewe wil maak en ‘n passie vir reg en orde het, kies die beroep. Indien jy net ‘n 8-tot-4-werk soek, is dit nie vir jou nie.”
Hy wil onthou word as “ ’n gedissiplineerde mens wat nie afgewyk het nie – iemand met integriteit en wat beloftes nakom”.
As hy weer kon kies, sou hy steeds die polisiediens kies. Wat hy die meeste gaan mis, is “die berusting en dankbaarheid van elke klaer wanneer sake suksesvol afgehandel is, en die bevrediging wanneer ‘n saak opgelos is”. “Elke dag is ‘n uitdaging – nie altyd maklik nie, maar moontlik. Deur dissipline en lang ure bereik jy sukses.”
Alhoewel niemand amptelik in sy plek aangestel is nie, glo hy Greeff sal waarskynlik in die pos waarneem. “Hy het die kennis en die vermoë om ‘n sukses te maak.”












You must be logged in to post a comment.