LANGEBERG – ‘n Ma (28) van Bonnievale wie se baba in Maart vanjaar sonder toesig in vlak water naby ‘n laagwaterbrug in dié dorp aangetref is, is gister (9 April) borgtog van R500 toegestaan.
Die ma staan tereg op klagtes van poging tot moord en Kindermishandeling ingevolge die Kinderwet 38 van 2025.
Volgens die polisie het ‘n man op 9 Maart vanjaar met die babameisie – toegedraai in ‘n kombers – by die Bonnievale-polisiekantoor ingestap.
Die man het aan die polisie vertel dat hy besig was om oor die laagwaterbrug oor die Bonnievale-rivier in Angorastraat te ry toe iets in die water sy aandag trek. Hy en sy vrou het stilgehou en by nadere ondersoek vasgestel dit is ‘n baba wat onbekend is aan hulle.
Toe die baba gevind was, het sy met haar kop op ‘n klip gelê terwyl die res van haar liggaam onder die water was. Die man het die baba opgetel en na die Bonnievale-polisiestasie geneem.
Die baba was sopnat en geklee in ‘n pienk bababroek en wit toppie. Die kind was yskoud en het ‘n blou-/grys gelaatskleur in haar gesig gehad. Haar oë was gesluit.
Volgens die polisie het die baba asem gehaal. Die polisiebeampte wat die baba by die man geneem het, het die kind in nog ‘n kombers toegedraai en die ambulans is ontbied. Die polisiebeampte het deurentyd met die baba gepraat totdat sy uiteindelik een van haar oë oopgemaak en opgebring het.
Die ambulans het omstreeks 17:30 by die Bonnievale-polisiestasie opgedaag. Die betrokke polisiebeampte het die nooddienste tot by Robertson-hospitaal vergesel waar die baba toe aan ‘n mediese dokter oorhandig is. Die baba was steeds baie koud en is onmiddellik in ‘n broeikas in die kraamsaal geplaas.
Volgens die polisie was die baba lewend en in ‘n stabiele toestand toe die betrokke polisiebeampte die hospitaal verlaat.
Die ma is dieselfde dag – nie ver vanwaar die baba gevind is – in hegtenis geneem.
Die uitsteldatum vir haar volgende hofverskyning was nie teen die tyd van publikasie bekend nie.





