KAAPSTAD – Die Bonteheuwel Walking Ladies, ‘n nie-regeringsorganisasie, het Maandagoggend gebid op die plek waar ‘n vrou die afgelope Saterdag doodgeskiet is.
Die 27-jarige Tharwah Bazier is Saterdag omstreeks 17:40 in Jakkalsvleilaan in die agterkop geskiet. Volgens die polisie se sers. Wesley Twigg het die oorledene in die pad gestap toe ‘n man haar genader en toe in die kop geskiet het. “Sy is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar. Die verdagte het weggehardloop en is nog nie in hegtenis geneem nie,” sê Twigg.
Gemeenskap geskok
Angus McKenzie, plaaslike raadslid, sê die gemeenskap is geskok oor die sinlose moord en sy hart gaan uit na die bedroefde familie. “Ek wil dit net duidelik maak dat hierdie ‘n geïsoleerde bendevoorval is. Die slagoffer en die vermeende moordenaar het mekaar geken en die moord is nie ‘n refleksie van die gemeenskap nie. Ek wil vir diegene sê wat nog wapens optel en moor dat hul gedrag nie die ware mense van Bonteheuwel verteenwoordig nie,” sê McKenzie.
Hy was ook vol lof vir die Stad Kaapstad se wetstoepassers wat vinnig op die toneel was en die gemeenskap kalm gehou het. “Ons as die gemeenskap sal nie toelaat dat boosdoeners ons kinders se toekoms uitmekaar ruk nie. Hierdie moordenaar moet weet dat die gemeenskap saam met die polisie gaan werk om hom vas te trek,” sê hy.
Medelye
Medelye het op Facebook ingestroom vir die oorledene, wat ‘n driejarige dogter agter laat. Hazel Banies skryf sy sal haar geselsies met Tharwah mis. Sakiena Parkar skryf die gemeenskap moet saam bid vir Kaapstad. “Ons onskuldige kinders gaan dood,” skryf sy.
Soraya Salie van die Walking Ladies sê hulle het dit nodig geag om op die plek te bid waar Bazier gesterf het. “Ons stap elke oggend daar verby en vanoggend (Maandagoggend) het ons net gevoel ons wil daar bid. Dis ‘n ma en ‘n dogter wat so wreed vermoor is; en dit nog in Vrouemaand. Ons bid vir vrede vir die ouers en die dogter van die oorledene en dat daar vrede in Bonteheuwel sal wees,” sê sy.





