Die polisie is op soek na die moordenaars van drie mense wat Saterdag in Valhallapark doodgeskiet is. ‘n Ma en haar seun is twee van die slagoffers.
Die skietery het laat Saterdagaand op die hoek van Paulus- en Hester-straat plaasgevind.
Volgens die polisie het ‘n 41-jarige vrou en ‘n 32-jarige man op die toneel aan hul wonde beswyk, terwyl die vrou se agtienjarige seun na die hospitaal geneem is, waar hy Sondag gesterf het.
In die gesig geskiet
“Die 18-jarige slagoffer is in die gesig en kop geskiet. Die omstandighede rakende die skietery is deel van die ondersoek. Niemand is nog in verband met die moorde in hegtenis geneem nie. Enigiemand wat oor inligting beskik wat tot die inhegtenisneming van die aanvallers kan lei, moet die polisie asseblief kontak,” sê die polisie se sers. Wesley Twigg.
LEES OOK: Cape Flats violence claims over 30 lives in deadly shootings
Intussen het die Bishop Lavis-gemeenskapspoliëringsforum, by monde van sy voorsitter, Amanda Davids, die moorde ten sterkste veroordeel. “Ons wil ons medelye aan die families van die oorledenes oordra. ‘n Mens kan nie eens dink hoe dit moet voel vir ‘n familie om ‘n ma en ‘n seun op so ‘n manier te verloor nie. Hierdie soort moorde is kommerwekkend omdat die meeste slagoffers en oortreders jongmense is. Ek wil ‘n beroep op gemeenskapslede doen om inligting met die polisie te deel, want al hoe ons hierdie sinnelose moorde tot ‘n einde kan bring, is deur saam te werk,” sê Davids.





