Leah an Niekerk is weer die aanbieder van Lottoland help 'n dorp.
Leah an Niekerk is weer die aanbieder van Lottoland help ‘n dorp.

Lottoland gaan nog dorpe se drome waar maak


Nog dorpe gaan binnekort gehelp word in die gewilde kykNET werklikheidsreeks Lottoland help ‘n dorp.

Met die vyfde seisoen van die reeks wat binnekort begin, gaan die aanbieder, Leah van Niekerk, kykers weer op ’n heerlike avontuur na plekke neem waarvan talle dalk nog nooit gehoor het nie.

Dié keer gaan toegewyde plaaslike projekspanne inspring in plekke soos Luckhoff, Concordia, Middelburg, Reitz, Uniondale en Wakkerstroom om betekenisvolle veranderinge in hul onderskeie gemeenskappe te bring.

Leah van Niekerk is weer die aanbieder van Lottoland help 'n dorp wat volgende week op kykNET begin
Leah van Niekerk is weer die aanbieder van Lottoland help ‘n dorp wat volgende week op kykNET begin. FOTO’s: Verskaf

Natuurlik is daar ook altyd uitdagings, maar oor die afgelope vier seisoene het dit duidelik geword dat gemeenskappe wat saamstaan en glo in wat hulle doen, vir geen enkele van daardie uitdagings stuit nie.

Leah sê Suid-Afrikaners is beslis baie veerkragtig en hulle bons gou terug ná uitdagings. “Ons mense maak ’n plan. Dis rêrig waar as daar gesê word ’n boer maak ’n plan!”

Sy is ook vol lof vir die mense in die gemeenskap wat betrokke is by die projekte – daardie mense wat sonder huiwering hul hand opsteek om te help.

“Met elke seisoen besef ek net al hoe meer hoe mooi ons land is,” sê Leah oor die reeks. “Soms voel dit of jy op die maan is. Ander dele is mooi gemaak deur die mense self. Ja, daar is baie negatiwiteit en mense wat sê die land val uitmekaar, maar ons moet ons dorpies en ons mense mooi oppas en koester.

“Hou op om te baklei en begin saamstaan – dan kan ons baie meer uitrig.

“Jy sien regtig die verbeteringe in die gemeenskappe, die mooimaak, die mense wat floreer. As ek hierdie dorpies binnegaan, voel ek die samehorigheid en die onderlinge respek. Dit is so mooi.

“Elke keer wanneer ek uit ’n dorpie ry nadat Lottoland help ’n dorp daar afgehandel is, sê ek dat dit nie die einde van die storie is nie, maar die nuwe begin vir daardie dorpie vir vele dinge wat nog in die toekoms gaan gebeur. Ons verteenwoordig maar net die vlammetjie van hoop wat aangesteek word, en dit versprei deur die land.

“Dis ook baie lekker as ek ’n dorpie binnery wat nie eers deel van Lottoland help ’n dorp was nie, maar waar daar ook verbeteringe aangebring is. Die program het hulle gemotiveer om ook self projekte in hul dorp aan te pak.”

Lottoland help ‘n dorp se nuutste reeks word van Dinsdag 7 Julie om 21:30 op kykNET (kanaal 144) uitgesaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article