Likwidasie-aansoek: Ekapa-myn op sy ‘knieë gedwing’; kommersieel insolvent

Ekapa
Part of Ekapa Minerals mine. PHOTO: ekapa.co.za

KIMBERLEY – Die meer as 150 jaar waarin diamantmyne die bestaansrede vir Kimberley en die episentrum van sy ekonomie was, het Dinsdag 3 Maart tot ’n skokkende einde gekom nadat die laaste diamantmynmaatskappy in die Diamantstad voorlopig gelikwideer is.

Die hooggeregshofsaal was volgepak met van die meer as 1 000 werkers wat hul werk op 25 Februarie vanjaar met dié skielike aankondiging van likwidasie verloor het. Hoewel hulle salarisstrokies ontvang het, het hulle nie salarisse vir Februarie ontvang nie.

Die Meester van die Hooggeregshof moet na dese ’n likwidateur vir Ekapa Resources en Ekapa Minerals aanstel, voor die keerdatum van 17 April wanneer ʼn finale likwidasiebevel verwag word.

Dit blyk uit die myngroep se aansoeke om voorlopige likwidasie dat swak internasionale diamantpryse die afgelope jare die begin van die einde was. Die katastrofiese modderstorting op 17 Februarie waarin vyf kontrakwerkers steeds vermis word, het die maatskappy op sy knieë gedwing.

LEES OOK: Minister waarsku oor skrale kans op oorlewing ná mynramp in Kimberley

Likwidasie weens ‘kommersiële insolvensie’

Advokaat Clayton Vetter, ondersteun deur adv. Shomane Mathiba, het namens Ekapa betoë gevoer. Die maatskappy wil twee entiteite likwideer en die voorlopige likwidasie van Ekapa Resources is nie teengestaan nie.

Die volgepakte hofsaal tydens die aansoek om voorlopige likwidasie van Ekapa Minerals en Ekapa Resources. FOTO: Charné Kemp

In die hoofaansoek het Ekapa Minerals en sy enigste aandeelhouer, Ekapa Mining, ’n aansoek vir voorlopige likwidasie weens kommersiële insolvensie gebring.

Dié aansoek is deur Leandi Neethling, namens ‘n skuldeiser, Bafokeng Hydrolics and Mining Solutions, teengestaan. Hulle het ‘n aansoek om uitstel gebring om hulle kans te gee om ‘n beantwoordende verklaring in te dien.

Vetter het egter aangevoer hul eie aansoek is uiters dringend want krediteure moet spoedig betaal word, en dat likwidasie die beste uitweg is.

‘n Voorlopige bevel kan ‘n likwidateur toelaat om moontlik met nuwe kopers te onderhandel om die onderneming te red omdat die waardevolle mynreg nog geldig is.

Situasie ‘vererger’ daagliks

Intussen hoop kostes op. Bates soos duur masjinerie moet deur sekuriteit beskerm word. Die myn moet sy versekeringspaaiemente byhou, en vir dienste soos elektrisiteit- en watertoevoer betaal. Dit, terwyl die myn nie operasioneel is en nie ‘n inkomste kan maak nie.

‘n Voortgesette reddingsoperasie vereis dat geld bestee moet word. Die skag is vol rotse en modder en derduisende liter water en grond moet uitgepomp en verwyder word.

Die situasie word “by die dag erger en erger”.

Dis dringend noodsaaklik dat ʼn likwidateur beheer neem en die myn en sy bates verkoop om kostes te dek en skuldeisers te betaal.

Vetter het Bafokeng Hydrolics and Mining Solutions se aansoek om uitstel teengestaan en aangevoer die aansoeker het nie regsbevoegheid nie. Hul aansoek is nie dringend nie. Boonop is geen wesenlike en dwingende feite aan die hof voorgelê nie.

Waarnemende regter Willem Coetzee het met Vetter saamgestem en die aansoek afgewys. Die bevele vir voorlopige likwidasie is toegestaan.

Swak diamantpryse, sintetiese diamante dra tot krisis by

In sy funderende verklaring voer Jahn Hohne, ‘n direkteur van Ekapa Minerals en Ekapa Mining van die Ekapa-groep, aan dat die maatskappy voor die voorval van 17 Februarie finansieel gesukkel het weens swak diamantpryse en kompetisie met sintetiese diamantpryse, asook stygende bedryfskoste.  

Teen Februarie vanjaar het die maatskappy minstens ses aanmaningsbriewe van krediteure ontvang wat agterstallige betalings eis.

Die maatskappy het op 13 Februarie 2026 met ‘n afleggingsproses begin, wat na verwagting sowat 188 werknemers sou raak.

Die “onvoorsiene en katastrofiese modderstorting” op 17 Februarie by die Joint Shaft-myn het vyf mynwerkers ondergronds vasgekeer. Ondanks voortgesette soek-en-reddingspogings, het kameras wat in boorgate laat sak is slegs water en modder gevind, wat aandui daar is geen oorleefbare toestande nie.

Die modderstorting het omvattende skade aan ondergrondse infrastruktuur aangerig, wat mynareas ontoeganklik gemaak en produksie tot stilstand gebring het. Die maatskappy benodig miljoene rande om die skade te herstel en die myn weer operasioneel te kry, geld wat hy nie het nie.

Kommersieel insolvent

Ekapa Minerals is kommersieel insolvent en nie in staat is om sy skuld te betaal nie. Die skuld behels sowat R110 miljoen aan handelskrediteure-eise, waarvan R55 miljoen meer as 120 dae agterstallig is.

Die oortrokke rekening van R50,4 miljoen is by Nedbank. Geld is aan Eskom (R7,2 miljoen) en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verskuldig. Die werknemers se eis beloop sowat R57,7 miljoen weens vorige salarisverminderings en uitgestelde toelaes.

Voorlopige likwidasie laat ‘n likwidateur toe om beheer oor bates te neem en die verkoop van die besigheid as ‘n lopende saak te ondersoek, wat volgens Hohne ‘n beter opbrengs vir krediteure sal lewer en moontlik werksgeleenthede in die Kimberley-gemeenskap kan red.

Die aansoek is dringend omdat die maatskappy “op sy knieë gedwing is”.

LEES OOK: MENING | Wat is Diamantstad se toekoms ná dramatiese gebeure?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article