KAAPSTAD – ‘n Negentienjarige liggaamsbouer van Durbanville is besig om sy merk te maak kort nadat hy besluit het om sy fokus na liggaamsbou te verskuif.
George-Wilson Smith was aanvanklik ‘n rugbyspeler wat baie tyd in die gimnasium deurgebring het. Dit is waar hy besef het hy het dalk ‘n toekoms in liggaamsbou.
“Ek het in Maart saam met ‘n liggaamsbou-afrigter begin werk omdat ek die sport meer ernstig wou opneem. Vir my was dit belangrik om my oefenprogram en dieet so professioneel as moontlik te kry omdat ek ‘n passie vir die sport ontwikkel het,” sê Smith.
Passie
Hierdie passie het vinnig vrugte afgewerp toe Smith aan sy eerste kompetisie, die Shaye Best Classic, deelgeneem het.
“Daar het ek gekwalifiseer om aan die United World Sports and Fitness Federation-wêreldkampioenskap deel te neem. Ek het my land en streek in Pattaya, Thailand verteenwoordig en het teen atlete van oor die wêreld heen deelgeneem.
“My vyfde plek het my baie trots gemaak, want dit was my eerste kompeterende jaar in die sport. Daardie prestasie was ‘n belangrike mylpaal in my loopbaan, want dit het my gewys wat deur harde werk en dissipline bereik kan word,” sê Smith.
Sy groot doelwit is om op ‘n jong ouderdom ‘n groot impak in Suid-Afrikanse liggaamsbou te maak en eendag deel te neem aan die Mr Olympia-kompetisie in Amerika.
“Om op ‘n jong ouderdom teen meer ervare mense deel te neem, wat al langer deel neem in die sport, is ‘n voorreg. Dit kan soms my bietjie mismoedig maak, maar ek probeer op my eie droom en my vordering fokus. My oefen-regime en my eetplan is deur my afrigter uitgewerk. Ek is ses keer per week in die gimnasium waar ek ‘n kombinasie van gewigte en fiksheidsoefeninge doen. My eetplan is opgestel sodat ek die perfekte hoeveelheid proteïne, koolhidrate en vette kan inkry. Ek eet ook agt etes per dag,” sê hy.
Balans
Een uitdaging wat hy het is om sy studies met sy sport te balanseer, sê Smith, wat vanjaar ‘n besigheidskursus by Stellenbosch Universiteit gedoen het en beoog om volgende jaar Menslike Hulpbronbestuur te studeer.
“Tydens eksamens is dit veral moeilik, maar ek fokus op myself en my drome. Vir jong atlete wil ek sê moet nooit jouself vergelyk met ander nie, maar net met jouself en hoe jy jouself kan verbeter. Op ‘n jong ouderdom is dit maklik om te glo wat ander sê, maar om te fokus op jou eie droom is die beste besluit wat jy kan maak,” sê hy.





