“Let it burn”: Vyf wonings verwoes in Kersdag-brand in Sir Lowry’s Pass

Inwoners in Matuangstraat in Sir Lowry’s Pass Village spook om die brand te blus. Foto: Verskaf

Wat veronderstel was om ‘n plesierige Kersdag te wees het in ‘n nagmerrie ontaard vir vyf gesinne van Sir Lowry’s Pass Village toe ‘n brand hul wonings in ‘n oogwink vernietig het.

Furzel Bitterbosch en sy gesin is deel van diegene wat geaffekteer is deur die verwoestende brand in Matuangstraat.

“Ons was Donderdagmiddag (25 Desember) Strand toe. Iemand het ons weggevat Strand toe vir die Kersdag en toe ons terugkom, het ons gelê en bietjie film gekyk. Terwyl ons gelê het, het ons gehoor die meisiekind in die anderkant sing ‘Let it burn‘ en sy soek olie. Toe ons uitkyk toe brand die plek alreeds. Ons het probeer om die vlamme dood te gooi want onse hokke (informele wonings) is teen aan mekaar gebou.

“Toe ons besig was om die vuur te probeer doodgooi het sy probeer om ons te stop. Ons het haar uit die pad gehaal en die emmers gebruik om water op die vlamme te gooi, maar hoe meer ons water gegooi het hoe groter het die vlamme geword. Die meisie het rejoice en aanhou gesing ‘Let it burn, Let it burn‘. So, iewers is iets nie reg nie. Jy kan nie so sing en dis jou blyplek waar jy ook bly en dit brand, maar jy het geen simpatie nie oor wat aan die gebeur is.”

Jong vrou sing, inwoners dink dis ‘n grap

Petrolene “Sister Lee” Alberts, ‘n gemeenskapsleier in Sir Lowry’s Pass, sê sy verneem die bure langs Bitterbosch het ‘n uitval gehad en hulle het glo gedink die meisie maak ‘n grap toe sy na bewering dreig om hul plek aan die brand te steek.

“Hulle het gedink sy maak maar net ‘n joke. Sy sê maar net so, maar sy sal dit nie regtig doen nie. Toe sing sy ‘Let it burn‘. So basies het sy die brand gestig dat hierdie huisgesinne nou die skade moet ly.”

Bitterbosch voeg by dat die jong vrou se gedrag aan die brandweer gerapporteer is, maar die brandweer verslag moet nog afgehandel word voor enige arrestasies gemaak kan word.

“Hulle het gesê hulle kan nie op hoor-sê gaan nie en [sal] eerder verdere stappe neem ná die brandverslag afgehandel is.”

Niks is gespaar tydens die brand in Sir Lowry’s Pass. Foto: Verskaf

Volgens Bitterbosch was hulle pogings om die vlamme onder bedwang te bring te vergeefs. Sy gesin en al die ander gesinne wat op die erf gewoon het, het alles verloor. Bitterbosch sê sy gesin bestaan uit 10 mense – hy en sy vrou saam met hul ses kinders, asook twee kinders wat in hul sorg geplaas is.

Valerie Mentoor, wat vir die vyf huisgesinne vesting gegee het op haar erf, is ook deur die brand geaffekteer.

“My hele huis is afgebrand tot op die grond. Die rede hoekom ek die mense hier op my jaart gehad het is omdat City [of Cape Town] nie die mense wil gehelp het om vir hulle grond te gee nie.”

Sonica Lategan, woordvoerder van ramprisikobestuur vir die Stad Kaapstad, het die brand bevestig.

“‘n Brand in Sir Lowry’s Pass het vyf strukture vernietig en 30 mense ontheem.”

Lategan sê op Kersdag was daar ook ‘n brand in Imizamo Yethu waar 25 strukture afgebrand het en 80 mense sonder ‘n heenkome gelaat het, terwyl agt strukture in Blikkiesdorp, Delft ook deur ‘n brand verwoes is en 44 mense dakloos gelaat het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article