Leerders kan inskryf vir eerste Jeugboer van die Jaar-kompetisie deur TLU SA

Skryf in vir TLU SA Jeugboer van die Jaar-kompetisie.
Skryf in vir TLU SA Jeugboer van die Jaar-kompetisie. FOTO: Unsplash / Christoper Stites

Read here for the English version.

TLU SA brei sy suksesvolle Jongboer van die Jaar-kompetisie uit deur in 2026 vir die eerste keer ’n Jeugboer van die Jaar-kompetisie vir laer- en hoërskoolleerders aan te bied.

Die projek gee jong mense die geleentheid om reeds op skoolvlak hul ondernemingsgees, kreatiwiteit en verantwoordelikheidsin deur praktiese landbou- en voedselprojekte te ontwikkel.  

“Die Jongboer van die Jaar-kompetisie het jaar ná jaar bewys dat dit ’n kragtige platform is om jong mense se talent en innovasie te wys,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Ons sien ’n groot waarde daarin om hierdie geleenthede na skole uit te brei en kinders van ’n jong ouderdom bloot te stel aan die beginsels van volhoubare landbou en entrepreneurskap.”  

Skep opwindende nuwe platforms

Die Jeugboer van die Jaar-kompetisie fokus daarop om leerders se probleemoplossingsvaardighede, kreatiewe denke en verantwoordelikheidsin te ontwikkel, selfs op klein skaal.

Deelnemers wys dat boerdery nie net oor groot plase gaan nie, maar oor idees, beplanning en volhoubare aksie wat waarde skep vir hulle gemeenskappe.  

“Dit is vir ons belangrik dat kinders vroeg leer hoe om idees in praktyk toe te pas en verantwoordelikheid te neem,” voeg Van Zyl by. “Hierdie projek is ’n stap om die volgende geslag van innoveerders en leiers in die landbou te inspireer.”  

LEES OOK: Landbou in SA groei met 17,4% en moet beskerm word sê TLU SA

Die Jeugboer van die Jaar-kompetisie beloof om ’n opwindende nuwe platform vir skole en jong mense te wees om hul idees en vaardighede aan ’n wyer gehoor te wys.

Voorbeelde van prraktiese projekte wat met landbou, voedselproduksie of volhoubare hulpbronbestuur verband hou, sluit onder meer groente- en kruietuine, kleinveeboerdery, byeboerdery, konfyt, droë vrugte, biltong en voedselverwerking in.

Klik hier om meer te lees oor die Jeugboer van die Jaar-kompetisie en hoe om in te skryf.

  • Alle deelnemers wat minderjarig is, moet skriftelike toestemming van ’n ouer of wettige voog hê, insluitend toestemming vir die gebruik van foto’s en video’s vir media- en promosiedoeleindes.
  • Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 2 Augustus, en die wenner word op 2 September aangewys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article