Die afgelope Mei het weer eens, soos al die voriges sedert 1994, die gewone gruwelikhede vir ons opgedis. Op ‘n wonderbaarlike wyse met die saamval van dae en datums was dit ‘n langerige langnaweek.

Vir klein ondernemings ‘n absolute nagmerrie en die enigstes wat die rustyd verdien het, is die hardwerkendes en eerlikes, met ander woorde hulle wat werk op meriete gekry het.

Baie van die res het ‘n gratis lisensie gekry vir gru-ongelukke op pad na óf van ‘n eet- en drinksessie en sommer nog huismoles ook terwyl ons ander uitgelewerde

inwoners van ‘n eens vooruitstrewende land vir veiligheid liefs tuis bly en maar soos altyd werk om deur elke dag se twak te kom, wat die agteruit-vordering van Suid-Afrika ons bied.

Gelukkig was daar twee vreugdevolle gebeurtenisse in Mei-maand wat ek met oorgawe geniet het. Dit was helder sterre in my donker hemelruim en ‘n lig deur die duisternis van nog ‘n begrotingsdebakel. Die rede vir laasgenoemde is bankrotskap aan regeerders van gehalte wat Suid-

Afrika op alle vlakke “gebankroteer” het.

Die een heerlikheid was die viering van die 100-jarige bestaan van Afrikaans, wat op 8 Mei 1925 as amptelike taal erken is. Omdat C. J. Langenhoven ‘n besondere rol hierin gespeel het, is dit gepas dat ek die volgende mondvol van hom aanhaal:

“Daar is soveel goed in die slegste van ons

En soveel sleg in die beste van ons

Dit betaam die leste van ons

Ons bekke te hou van die reste van ons.”

Hoewel dit nie sy eie uitgedinkte gesegde is nie, maar dié van J.T. Adams,

wat hy baie slim vertaal het, is dit ‘n groot waarheid. Ook Bybels waar. Omdat Langenhoven aanvanklik ‘n vurige kampvegter vir Engels as amptelike taal was, het hy Engels en die betekenis van woorde geken.

Dis heel anders as Steenhuisen, Rupert, Cameron en Ramaphosa met sy ander lakeie, asook die White bleeding hearts wat duidelik nie die ware betekenis van die Engelse woord genocide ken nie. Hulle voel gemaklik so, want hulle sit veilig in hul gefortifiseerde luukse eiendomme, die meeste daarvan met ons belastingbeta-

lers se geld, en sien nie eens wat rondom hulle gebeur nie. Of sou hulle sien, gee hulle nie om nie.

Dis nou net hier waar ek reëlreguit gaan teen Langenhoven se slim-sê van “ons bekke te hou van die reste van ons”. Ek gebruik nou ook my bek-lisensie om soos Ramaphosa en duisende ander met brieklose bekke met taal om te gaan. Dis verbysterend vir my dat elke tweede gek ‘n wêreldwye platvorm het, waarop hulle ongebreideld aangaan en ‘n politieke teenstander met afbrekende woorde en negatiewe kommentaar beskryf. Enigiemand wat van hul standpunt durf verskil, word in die vuilste taal en laakbaarste skelwoorde gekritiseer. Daar is geen taboe meer in selfs openbare gesprekvoering nie. Ons land het in elke aspek in statuur in die oë van die buitewêreld gedaal.

Hier is my tweede vreugde-ervaring wat ek in Mei gehad het. Kan ek dit maar sê, want niemand hou mos meer “hul bekke van die reste van ons” nie? Laat ek dan nou ook maar briekloos voortgaan met monduitspoel. Nie dat ek konformeer nie; net so dat die ander duidelik kan verstaan. Het slim ekke mos voorsien en my by voorbaat verlekker in die uitkoms van die Amerikaanse besoek. Dit oortref toe nog my stoutste verwagtings ook. En vir al die brieklose bekke wat nie daaroor kan kom nie en verskil met mense wat rêrig weet, maak maar nog skelwoorde bymekaar. Sien: Trump, wat op hierdie oomblik die bekendste wêreldfiguur is, steur hom nie aan die klein hondjies wat onder teen die hoë boom se stam piepie nie. Onthou, hy is soos die bulhond-spesie. Hy los nie waar hy gebyt het nie.

Weet maar hierdie is nie die einde van sy aanval nie. In vele opsigte het Ramaphosa en sy raadgewers alles misgelees. Ook dat hy net ‘n sekere aantal afgevaardigdes kon neem. Vir seker was die voorwaarde dat die geagte nuwe ambassadeur nie daar mag wees nie?

Hoekom is ek nie verbaas dat

Ramaphosa hierdie keer van ons land die grootste gek nog in die wêreld gemaak het nie? Dit het oral weerklink en is in alle windrigtings gewaai. Natuurlik sou Poetin en China, en al die gevaarlike sogenaamde vriende van Suid-Afrika, kennis neem.

Ek hoop die duur belastingbetalersuitstappie se nadraai hou op die lange duur iets goeds vir die verguisde Suid-Afrika in.

Natuurlik moet ek Langenhoven se voorskrif handhaaf, want dis ook Bybels korrek. Ek sukkel ‘n bietjie daarmee. Ook waar is dat wanneer iemand in ‘n leierskap-baasskap-posisie kom, hy nie verander nie. Sy ware karakter kom uit.

Hemel help ons! Hier is baie met donker karakters wat oor ons regeer, plus ‘n spul papperds ook. Die Groot Boek noem dit alles . . . Ek bid maar.

You need to be Logged In to leave a comment.