Dit gaan goed met Arno Taljaard (25) wat verlede week in die Netcare Universitas Akademiese Hospitaal ‘n nieroorplanting ondergaan het.
Hy word steeds in die intensiewesorgeenheid van dié hospitaal gemonitor nadat die nier op Dinsdag 19 Mei op hom oorgeplant is danksy ‘n skenking van die 28-jarige Deon van der Berg wat in ‘n motorongeluk in Dan Pienaarrylaan dood is.

In ‘n aangrypende skildery wat Arno gemaak het tydens die meer as ‘n jaar waarop hy elke aand van 20:00 tot 05:00 dialise moes ondergaan, kom iets van die groot frustrasie en sy geestestoestand in die tyd na vore.
Die skildery genaamd Bioniese Afhanklikheid, is ‘n selfportret wat hy geskilder het wat nie net sy ongemak en pyn wys nie, maar ook die feit dat hy gehoorgestremd is en nie altyd gehoor het as die waarskuwings aangaan wanneer die dialise onderbreek word nie.
Arno is reeds op vyfjarige ouderdom met Alport-sindroom gediagnoseer. Dit is ‘n seldsame, genetiese toestand wat die niere beskadig en ook sig en gehoor aantas. Met verloop van tyd veroorsaak die siekte dat die niere hul funksie verloor en pasiënte ontwikkel nierversaking.

In Februarie 2025 het Arno se siekte op die punt gekom waar hy in die hospitaal opgeneem is. Hy het hier saam met sy ma se neef Barry Groenewald gelê wat ook ‘n lyer van die siekte was. Barry is in die tyd in die hospitaal oorlede.
Arno moes daarna daaglikse dialiseproses tuis ondergaan. In hierdie tyd het hy voortgegaan om te werk as elektriese vakleerling by SA Truck Bodies.
Arno se oupa, Christo du Plessis het op 19-jarige ouderdom ‘n nieroorplanting gekry. ‘n Koerantberig wat Arno se ma Elzabé Castelyn oor haar pa bewaar, het berig hoe Christo, wie se niere verwyder moes word weens die siekte, in ‘n “bioskoop” in Bloemfontein was toe die boodskap deurkom dat hy na Johannesburg moet kom vir ‘n nieroorplanting. Tydens pouse het sy pa, bekende sakeman van die tyd Hennie du Plessis hom bereik en hulle het hom lughawe toe gehaas sodat hy na Johannesburg kon vlieg.

Arno se oupa Christo is op ouderdom 27 oorlede.
Daar wag nou ‘n hersteltyd vir Arno voor voordat hy weer sal kan werk en sy rooi seël kan behaal.
Dokters monitor die nuwe nier voortdurend om seker te maak dit funksioneer reg en dat daar geen tekens van verwerping of komplikasies is nie. Arno sal gereelde bloedtoetse, ondersoeke en medikasie-aanpassings ontvang.
Die liggaam herstel ook van ’n groot operasie, so moegheid, pyn en emosionele uitputting is normaal.
Die eerste 6 tot 12 weke is gewoonlik die mees sensitiewe tydperk.
Omdat Arno nou immuunonderdrukkende medikasie moet gebruik om sy nuwe nier te beskerm, is sy immuunstelsel baie swakker as normaal. Dit beteken selfs gewone infeksies of virusse kan gevaarlik wees.
Arno sal terwyl sy liggaam herstel vir ’n geruime tyd nie kan werk nie.
Vriende het vir hom ‘n BackaBuddy-projek begin om hom tydens die herstelproses en totdat hy weer kan werk, te ondersteun. Volgens sy vriende sal geld wat met die projek ingesamel word, aangewend word vir sy maandelikse uitgawes, bydraes tot sy mediese koste en ander uitgawes.








You must be logged in to post a comment.