Waarskuwing: Foto’s en video mag sensitiewe lesers ontstel
Die grusame toneel van die wrede slagting van skape het ‘n boer van Durbanville begroet toe hy en werkers vanoggend (Donderdagoggend 21 Augustus) vroeg die spoor van skaapdiewe na Klipheuwel gevolg het.
Sowat 75 skape is gesteel, waarvan slegs 14 lewendig teruggevind is.
Nog 35 karkasse in verskeie stadiums van slag is in en tussen verskeie informele huise in Klipheuwel gevind, asook die velle van vyf skape waarvan die vleis reeds onder inwoners versprei is.
Drie mans wat besig was om van die skape te slag, is in hegtenis geneem.
Die lewendige skape is agterop bakkies terug na die plaas vervoer, terwyl die karkasse met ‘n vragmotor aangery is.

Oproerig
Inwoners van Klipheuwel het oproerig geraak en die boer en sy werkers het die toneel op aanbeveling van die Philadelphia-polisie verlaat.
Volgens Rennie Brink van die plaas Groot Phesantekraal het werkers vanoggend omstreeks 07:00 opgemerk die drade van ‘n kamp op die plaas Bloublommetjeskloof is geknip.
Hy en die werkers het die spore gevolg waar die skape na die treinspoor en al met die treinspoor langs onderdeur die brug en om die silo’s na Klipheuwel aangejaag is.
Hullle het op veiligheidskameras gesien dat die skape ongeveer 02:00 daar aangejaag is.

Wreed gesteek
Volgens hom is dit Dohne-Merino-skape wat vir hul wol en vleis geteel word. Die skape is keelaf gesny en sommige is wreed in die rug met ‘n mes gesteek, het hy gesê.
Die skade wat hulle gely het, beloop sowat R200 000.
Nog voorvalle van veediefstal is die afgelope maand of langer op plase in die omgewing aangemeld.
Volgens die Philadelphia-polisie is die saak is na die Kraaifontein-polisiekantoor oorgeplaas omdat die plaas Bloublommetjieskloof, waar die diefstal plaasvind het, in die Kraaifontein-polisiegebied val.
Die saak sal deur die polisie se veediefstal-eenheid ondersoek word.

Sindikaat betrokke
Volgens kapt. Dirk Coetzee, die bevelvoerder van die polisie se veediefstal-eenheid in Malmesbury, is die verdagtes nie Suid-Afrikaanse burgers nie.
Coetzee het gesê veediefstal in dié gebied is al lank ‘n probleem. ” ‘n Sindikaat is betrokke. Ons geniet egter goeie samewerking tussen die boere en ons mense,” het hy gesê.
Die verdagtes word by die Philadelphia-polisiekantoor aangehou en sal Maandag in die Atlantis-landdroshof verskyn.






You must be logged in to post a comment.