Die tekening van 'n luiperd wat kunstenaar Isabel Kruger in Desember 2025 geskep het.
Isabel Kruger is baie trots op dié tekening van ‘n luiperd wat sy onlangs voltooi het. FOTO: Verskaf

Sy is dinamies, bekwaam en ‘n vrou met vele talente wie se kreatiwiteit ook nou in potloodtekeninge uitgebeeld word.

Die 62-jarige Isabel Kruger van Heilbron is alombekend; nie net as begaafde orrelis en skrywer nie, maar nou ook vir haar sketstalent wat sy op ‘n gevorderde ouderdom ontdek het.

“Om te skets was altyd iets wat my baie gefassineer het. Ek het ‘n groot bewondering daarvoor en daarom het ek verlede jaar besluit om my hand aan die potlood te waag,” sê sy.

Isabel Kruger (62) van Heilbron is 'n bron van inspirasie so vroeg in die nuwe jaar.
Isabel Kruger (62) van Heilbron is ‘n bron van inspirasie so vroeg in die nuwe jaar. Sy het ‘n nuwe stokperdjie aangepak deur te begin skets en wil graag mense inspireer deur te sê ‘n mens is nooit te oud om iets nuuts te leer nie.

Haar eerste potloodtekening, van ‘n wolf, het vir haar skoon vreemd voorgekom.

Isabel ontvang kunsklasse by Marelize Loots, wat by haar wou weet of sy kuns op skool geneem het, want sy was beïndruk met haar eerste poging.

Volgens Isabel verg die stokperdjie baie geduld en die regte tegnieke, asook die korrekte papier en potloode. Sy het al verskeie probeerslae ook opgeskeur, want sy reken as jy ‘n fout maak wat jy nie kan regstel nie, sal die fout jou altyd pla.

Dié wolf was Isabel se eerste skets wat sy verlede jaar aangepak het.
Dié wolf was Isabel se eerste skets wat sy verlede jaar aangepak het.

“Ek neem gewoonlik ‘n foto van my sketse en dan bestudeer ek die foto om te sien is daar iets wat ek moontlik kan verander en so tel ek gewoonlik die foute op.”

Sy geniet dit om diere te teken maar beoog ook om profiele en ander soort sketse aan te pak. Sy meen wanneer die buitelyne van ‘n skets volmaak is, kom die inkleur met aksente redelik maklik.

As iemand wat daagliks ‘n baie vol program het, voel Isabel dit is baie belangrik om tyd te maak vir ‘n stokperdjie waar jy jouself weer kan vind, asook om van die dag se gebeure af te sluit. Soms teken sy in stilte; ander kere sommer voor die televisie of terwyl sy na rustige musiek luister.

Haar liefde vir diere asook vir perde het dié skets geïnspireer.
Haar liefde vir diere asook vir perde het dié skets geïnspireer.

” ‘n Mens bewonder altyd die gawes van ander, sonder om self te probeer, en so kan ‘n talent dalk verlore gaan as jy nie probeer nie. Daar bestaan nie so iets soos ‘ek kan nie’. As jy nie probeer nie, sal jy nooit weet nie.

“Daarom is ek baie bly ek het probeer. Ek moedig mense aan om dit hul Nuwejaarsvoornemens te maak. Probeer altyd iets nuuts. Onthou, jy is nooit te oud om te leer nie en as jy nie gaan probeer nie sal jy beslis nie weet nie.”

Onlangs het Isabel ook aanlyn lesse by die welbekende Pieter van der Merwe, ‘n professionele grafietkunstenaar van die Wes-Kaap, begin neem.

Die stokperdjie is vir haar baie ontspannend en ‘n manier om van haar besige leefwyse te ontsnap. Isabel werk as ‘n heeltydse menslikehulpbronbestuurder by ‘n groot sakeonderneming in Heilbron; sy is ook by Vrystaat Landbou (VL) betrokke.

Met haar uitgebreide kennis en agtergrond as speurder in die polisie bied sy ook opleidingsessies aan die polisie, staatsaanklaers en boere rakende veediefstal-wetgewing.

Om diere te teken bly haar passie, maar Isabel hoop om binnekort profiele en ander soort sketse aan te pak.
Om diere te teken bly haar passie, maar Isabel hoop om binnekort profiele en ander soort sketse aan te pak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article