Kayla Reyneke het Dinsdag 'n droom-debuut vir die Proteas gemaak in die openingswedstryd teen Pakistan in Potchefstroom.
Kayla Reyneke het Dinsdag ‘n droom-debuut vir die Proteas gemaak in die openingswedstryd teen Pakistan in Potchefstroom.

KAAPSTAD – Kayla Reyneke (20) van Kuilsrivier het Dinsdagaand (10 Februarie) ‘n droom-debuut vir die senior Protea-vrouekrieketspan gehad in die span se openingswedstryd in die T20-toetsreeks teen Pakistan.

Reyneke het nie net haar tuisdorp nie, maar die hele land trots gemaak toe sy op dramatiese wyse die wedstryd in Suid-Afrika se guns beklink het.

Met nog twee lopies kort om die teiken van 181 te haal, het sy die heel laaste bal van die wedstryd vir ‘n ses geslaan. Dit het verseker dat die Proteas met vyf paaltjies (185/5 teenoor Pakistan se 180/9) gewen het vir ‘n 1-0 voorsprong in die reeks.

Speler van die wedstryd

Reyneke het 29 lopies (nie uit nie) — wat ‘n vier en drie sesse insluit — van 16 balle aangeteken. Maar dit is nie net met die kolf dat sy beïndruk het nie.

Die veelsydige speler en voormalige SA o.19-kaptein het in haar heel eerste boulbeurt vir Gull Feroza, een van Pakistan se openingskolwers, uitgeboul. Haar boulsyfer van 2/13 (in vier boulbeurte) is volgens Krieket SA die beste nog vir ‘n nuweling in ‘n Protea-vrouespan in ‘n internasionale toets.

Reyneke, wat as Speler van die Wedstryd aangewys is, het ná die wedstryd gesê sy kon nie vir ‘n beter debuut vir haar land gevra het nie.

Kayla Reyneke met die Speler van die Wedstryd-toekenning.
Kayla Reyneke met die Speler van die Wedstryd-toekenning.

Droom bewaarheid

Haar insluiting in die nasionale span was reeds vir haar ‘n droom wat waar geword het.

Claire Terblanche, WP-vrouekrieket se hoofafrigter en assistent-afrigter by die Proteas, wat Reyneke se Protea “cap” aan haar oorhandig het voor die toets, het verwys na ‘n 10-jarige Kayla wat saam met die seuns krieket gespeel het en as “ball girl” met ‘n kriekethelmet op gedroom het van hierdie dag.

“Jou ma het jou rondgery sodat jy daardie droom kon bereik. Kayla, ek het jou oor die jare gesien groei as speler en as mens — dit is nou jou hart, jou inspanning en die manier waarop jy aanhou veg wat jou definieer,” het Terblanche gesê.

Sy het uitgewys dat dit spesiaal is om ‘n nasionale debuut op tuisgrond voor familie en vriende te maak. “Geniet dit,” het sy vir Reyneke gesê — woorde wat sy klaarblyklik ter harte geneem het.

Trots

Bernadette Reyneke, Kayla se ma, vertel sy het aanvanklik gedink Kayla sal miskien in die derde wedstryd speelkans kry. Sy het Maandagaand inderhaas ‘n vliegkaartjie bespreek om Kayla te verras nadat sy (vertroulik) verneem het sy sal speel.

Bernadette sê sy het omtrent nie woorde om Kayla se goeie debuut te beskryf nie. “Kyk, dit het ons nou glad nie verwag nie. Ons is baie trots.”

Sy vertel dat Kayla reeds van gr. 6 af by WP-krieket betrokke is. Sy moes baie ritte vir oefensessies Nuweland toe ry en ure om wag omdat Kuilsrivier te ver was om heen-en-weer te ry.

Maar dit was alles die moeite werd.

Daar was baie opofferings, maar sy is nie een oomblik spyt nie, sê Bernadette.

Koel en kalm

Reyneke het tydens die sing van die volkslied en ná daardie dramatiese einde ‘n traan gepink, maar tydens die wedstryd was sy koel en kalm.

Op die mediakonferensie ná die wedstryd het sy gesê haar ondervinding in twee o.19-wêreldbekertoernooie (2023 en 2025) het haar reeds ‘n voorsmakie van internasionale krieket gegee.

Sy het toegegee dat sy wel druk gevoel het in daardie laaste boulbeurt, maar dat sy net haar bes gedoen het om elke oomblik gefokus te bly.

“Krieket is eintlik baie eenvoudig, jy moet net die bal dophou en (elke bal) volgens meriete speel en dan sal jy ‘fine‘ wees,” het sy gesê.

Sy weet dat daar nog span gekies moet word vir die T20 Vrouekrieket-Wêreldbekertoernooi in Junie, maar dit is nie nou iets waaraan sy te veel dink nie.

Sy glo wel daaraan om elke dag die nodige werk in te sit en dat harde werk beloon word.

Toetsreeks

Die tweede toetswedstryd is vanaand (Vrydag 13 Februarie) om 18:00 en die derde Maandag 16 Februarie om 18:00 op Willowmoore-park, Benoni.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article