LANGEBAAN – Om op die Corona Beach 100-lys vir 2026 te verskyn, is ‘n groot eer vir die Weskus- Nasionale Park. Kraalbaai, ‘n ongerepte strand en gewilde swemplek, is op die lys geplaas, onder die top 4.
Volgens Charlene Adams, hoof van die Weskus- Nasionale Park, is hulle ongelooflik trots en verheug dat Kraalbaai internasionale erkenning ontvang het.
“Hierdie prestasie bevestig wat baie besoekers en plaaslike inwoners reeds weet – dat Kraalbaai een van Suid-Afrika se mees besonderse kusbestemmings is. Dit is ook ‘n erkenning van die belangrike bewaringswerk wat oor baie jare binne die Weskus- Nasionale Park gedoen is,” meen Adams.

Die jaarlikse gids, wat vrygestel word om saam te val met Wêreld-oseanedag op 8 Junie, beklemtoon strande wat onderskei word deur natuurlike skoonheid, unieke karakter en sterk verbintenis met die natuur. Hierdie jaar se uitgawe sluit 27 nuwe toevoegings in.
LEES OOK: Four South African beaches named among the world’s best for 2026
Ander Suid-Afrikaanse strande wat hierin genoem word, is Kampsbaai, die Boulders-strand die strande in die Wildernes-gebied.
Dié dinge maak Kraalbaai uitsonderlik
Wat tot die erkenning bygedra het, meen Adams, is Kraalbaai se unieke kombinasie van kristalhelder turkooiswater, wit sandstrande en die rustige omgewing van die Langebaanlagoon, wat dit van baie ander kusbestemmings onderskei.
“As deel van ‘n Ramsar-beskermde vleigebied bied dit besoekers ‘n uitsonderlike geleentheid om met die natuur in aanraking te kom terwyl hulle ‘n relatief ongerepte omgewing ervaar. Die gebied se biodiversiteit, geskiedenis en natuurskoon dra alles by tot sy internasionale aantrekkingskrag.
“Hierdie erkenning plaas Kraalbaai en die hele Weskusstreek op die wêreldkaart. Dit kan groter bewustheid skep van die belangrikheid van natuurbewaring, terwyl dit terselfdertyd ekonomiese geleenthede vir plaaslike toerisme-ondernemings, verblyfverskaffers en gemeenskappe ondersteun. Dit wys dat bewaring en volhoubare toerisme hand aan hand kan gaan,” sê Adams.
Meer besoekers kan gerus ‘n draai maak
Met dié prestasie word daar baie meer besoekers by Kraalbaai verwag – plaaslik sowel as internasionaal.
Adams sê groter toerismebedrywigheid kan voordele inhou, soos verhoogde inkomste vir bewaring en plaaslike ekonomiese ontwikkeling; daan kan egter ook uitdagings wees. Dit sluit in druk op infrastruktuur, versteuring van sensitiewe habitat, afvalbestuur en moontlike invloed op natuurlewe in.
Daarom is dit noodsaaklik dat besoekers verantwoordelike toerismepraktyke volg.
“Ons nooi besoekers uit om hierdie besondere bestemming te kom ervaar, maar vra dat hulle dit met respek vir die natuur doen. Help ons om Kraalbaai se unieke karakter te bewaar deur geen rommel agter te laat nie, gemerkte gebiede te respekteer en die beginsel van ‘laat geen spoor agter nie’ toe te pas. Só kan toekomstige geslagte ook hierdie natuurlike skat geniet.
“Hierdie erkenning skep ‘n waardevolle geleentheid om die belangrikheid van natuurbewaring en volhoubare toerisme verder te bevorder. Dit versterk die Weskus- Nasionale Park se status as een van Suid-Afrika se voorste natuurbestemmings en kan help om toekomstige bewaringsveldtogte, navorsing en gemeenskapsontwikkeling te ondersteun.
“Ons sien dit as ‘n inspirasie om voort te gaan met die beskerming van hierdie unieke natuurlike erfenis vir toekomstige geslagte,” voeg Adams by.
LEES OOK: WATCH | Southern Right whales are back in the Overberg, arrived early







You must be logged in to post a comment.