‘n Nuwe kommersiële ontwikkeling word vir De Zoete-inval beplan. Foto: Argief/ Jana Scheepers

PAARL – Die Drakenstein-munisipaliteit (DM) is tans in gesprek met konsultante rakende ‘n voorgestelde ontwikkelingsprojek wat “voorlopig” ‘n winkelsentrum en vulstasie op drie erwe in De Zoete-inval geleë langs Nuwe Eskadelstraat in die Paarl insluit.

Hierdie voorgestelde kommersiële ontwikkeling sal ook die huidige Strawberry King-winkel insluit. Volgens die familie wat voorheen hierdie grond besit het, sal die geskiedkundige Strawberry King-ontwikkeling steeds voortleef.

“Die grond is verkoop, maar ons [die familie] huur die gebou terug van die nuwe eienaar. So as die aarbeiseisoen begin gaan ons nog aarbeie daar verkoop,” luidens hul terugvoering.

Die familie wou nie enige verdere kommentaar lewer nie.

Die drie erwe wat verkoop is sluit in 3075, 3078 en 20000 in Paarl.

Volgens Seraj Johaar, die DM se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het die munisipaliteit nog geen formele aansoeke vir die beoogde ontwikkeling tot dusver ontvang nie.

Munisipale skakeling vind tans slegs met die span konsultante plaas, wat verdere besonderhede oor die ontwikkelaar kan verskaf, het Johaar verduidelik.

“Omgewingsimpakstudies is deel van die aansoek vir omgewingsmagtiging wat deur die relevante besluitnemingsowerheid, die Wes-Kaapse Departement Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, oorweeg word. Die eerste ronde van ‘n openbaredeelnameproses in hierdie verband het reeds plaasgevind.

“Die DM se rol is dié van reguleerder en sal ‘n grondgebruikaansoek oorweeg wanneer dit ingedien word. Deel hiervan is ‘n openbaredeelnameproses ingevolge die munisipaliteit se verordening oor munisipale grongebruikbeplanning.

“Die munisipaliteit bepaal die omvang van infrastruktuur-opgraderings nadat ‘n aansoeker verskeie impakstudies by die munisipaliteit ingedien het. Die aansoeker is verantwoordelik vir die finansiering van hierdie opgraderings. Geen munisipale geld word vir private ontwikkelings aangewend nie.”

Volgens Johaar het die DM die afgelope 10 jaar heelwat aansoeke vir kommersiële ontwikkeling in die gebied ontvang waarvan vier goedgekeur is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article